’n Goudvelder bekend vir haar humoristiese rubrieke en skrywes oor die jare heen, het haar grootste droom op 22 Mei verwesenlik met die bekendstelling van haar eerste boek, Antie Koekie.
Alta Breedt se Antie Koekie-stories met haar kwinkslae oor die lewe laat ’n mens skaterlag, maar daar is ook lewenslesse te leer.
As enigste kind wat opgroei Stories het haar sedert kleintyd gefassineer en voor skool het sy haar naam oral op haar pa se koerante geskryf.
Opstelle was een van haar sterkpunte en nadat sy André P. Brink se boeke in gr. 7 ontdek het, het ’n nuwe wêreld van moontlikhede vir haar oopgegaan.
So sterk was André P Brink se invloed op haar lewe, dat haar inskrywing vir die skool se jaarblad (1968) summier gediskwalifiseer is omdat dit “te gewaagd” was.
In 1997 voltooi sy ’n skryfkursus by Lane Flint en nadat daar ’n nuusbrokkie van haar in Vista verskyn het, was die koeël deur die kerk.
“Die oomblik toe ek my woorde en gedagtes, swart op wit, in die koerant sien vir almal om te lees, was dit oorweldigend en het ek ongeneesbaar verslaaf geraak aan die dwelm van die gepubliseerde woord.”
Die skrywe van Antie Koekie is eers gebore as ’n blog en daarna as ’n gereelde rubriek. Haar lewenspad was nie glad en rimpelvry nie. Sy leef die lewe in volle swang – van die hoogste kruine tot die diepste ellendes.
“Met my 70ste verjaardag wat al nader kruip, het ek besluit dit is nou of nooit! Ready or not, hier kom Antie Koekie.”
Sy sê die liefde maak haar stuitig, maar in dié aspek van haar lewe is sy meer as een keer teleurgestel en moes menigmaal die drade van vooraf optel en as alleen-vrou oor begin.
Sowat drie jaar gelede loop sy ’n ou skoolvriend raak en vind liefde. Antie Koekie is uiteindelik gelukkig en saam het hulle, die windverwaaide ouma en haar stil lang man, vrede gevind.
Sy het aan haar boek begin werk nadat sy en haar lang man in ’n woonwa aan die Weskus gebly het. Die boek handel oor haar persoonlike “bevryding” op die ouderdom van 50 jaar toe sy een aand kaalbas onder ’n volmaan saam met ’n onbekende man geswem het. Daar het sy haar eie rebellie begin. In dié tyd het sy ’n naeltjiering laat insit en op 60 jaar oud by die Orlando-torings gaan reksprong doen. Sy skryf humoristies oor die liefde tussen die vroulike en manlike geslag, die grade van intensiteit van emosies in alle verhoudings, , huiwer nie om Eva se slang in die Paradys uit te trap nie en deel ook haar pad met depressie. Hierdie bundel van rubrieke gaan nie teleurstel nie. Die leser gaan lag en ook huil en in menige storie hul eie lewe sien. Geniet Antie Koekie.
– ChrystelleErasmus