Meer as 120 huishoudings in Odendaalsrus word ernstig benadeel deur die voortdurende en onverminderde rioolprobleme.
Raadslid Igor Scheurkogel smeek en dreig nou al vir meer as ses weke dat die Matjhabeng-munisipaliteit se plaaslike raad iets dringend doen om die situasie reg te stel.
“Ek het hulle gebel, e-posse aan hulle gestuur en hulle persoonlik genader om dringend die steeds verergerende probleem aan te spreek. My pleidooie het op dowe ore geval, en nou word mense siek van die voortdurende blootstelling aan rou riool in hul strate en selfs agterplase. Ek is raadop,” sê hy.
Wanneer Scheurkogel vra dat die straalvragmotor rioollyne in Odendaalsrus moet oopsluit, word hy meegedeel dat dit steeds in Virginia is en nie gebruik kan word om die nood van die Odendaalsrus-inwoners te verminder nie. Dit gaan nou al ses weke in Odendaalsrus so aan.
“Hierdie magsmisbruik moet stop, elke raadsvergadering word ons daaraan herinner dat ons die administrasie en of die munisipaliteit moet depolitiseer, maar optrede soos hierdie wys net dat daardie opmerkings net lippediens is en bloot net probeer om inwoners te paai,” sê hy.
Scheurkogel sê dit is werklik skokkend dat senior amptenare en leierskap geen ag slaan op menswaardigheid en menseregte soos vervat in die grondwet nie.
Scheurkogel het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en ook die Groen Valke gekontak en wag op terugvoer.


