Sommige inwoners in Wyk 35, Uitbreiding 2 Rheederpark moes hul huise ontruim omdat hulle nie met die reuk kon saamleef nie.Foto: Verskaf


Vir meer as ’n jaar het die beloftes om die Matjhabeng-munisipaliteit se rioolramp op te los, onvervuld gebly.

Die rioolramp van 2022 wat Matjhabeng in die raadsvergadering verklaar het, is steeds vir baie inwoners ’n werklikheid.

Wyksraadslede moet daagliks ’n beroep op amptenare doen om na mense se huise te gaan om riool uit hul huise te pomp of om hooflyne in die straat te oop te maak.

Sommige inwoners in Wyk 35, Uitbreiding 2 Rheederpark moes hul huise ontruim omdat hulle nie met die reuk kon saamleef nie.

Ontstoke inwoners moet daagliks ’n beroep op die munisipaliteit doen om na mense se huise te gaan om riool uit hul huise te pomp of om hooflyne in die straat te oop te maak.Foto: Verskaf

Hulle kon ook nie behoorlik toegang tot hul huise kry weens die rou riool in hul erwe nie.

Inwoners word gereeld deur riool wat in hulle toilette opstoot gekonfronteer. Foto: Verskaf

Opknappings aan die riool-infrastruktuur in Matjhabeng is in totale chaos. Van die 31 kontrakteurs wat aangestel is om afvalwatersuiweringsaanlegte, pompstasies en rioolpypleidings op te knap, is drie kontrakteurs vervang weens nie-prestasie.

“Daar moes teen Januarie 20 projekte voltooi gewees het, maar die meerderheid daarvan het nie begin nie en geen daadwerklike werk is gedoen om inwoners se probleme te verlig nie. Die uitstaande nege projekte sal tussen Februarie 2024 en Mei 2026 voltooi word,” sê Igor Scheurkogel, DA raadslid vir dié wyk.

Dringende ingryping deur nasionale departemente is nodig om te verseker dat kontrakteurs die werk begin waarvoor hulle in diens geneem is en om te verseker dat belastingbetalers se geld nie vermors of andersins wan-administreer word nie.

“Ons sal aan die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake skryf om dringend tussen die twee regeringsfere in te gryp om te verseker dat hierdie projekte begin en sonder bykomende koste voltooi word,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.