Die Welkom-tak van AfriForum het ’n plaaslike loodgieter aangestel om die verskeie mangate en verstopte rioolpype in Riebeeckstad skoon te maak en verstoppings op te klaar.
Patrick Fouché is op 25 Februarie deur dié organisasie aangestel nadat lede van AfriForum in Riebeeckstad hom genader het met klagtes oor rou riool wat erwe en strate op sommige plekke oorspoel.
AfriForum het sedert Augustus 2019 reeds verskeie skrywes aan die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit gerig oor rou riool in erwe.
“Die rou riool hou verskeie gesondheidsrisiko’s vir die inwoners in, en dit vloei soms weke aaneen uit die mangate. Dit is op sommige plekke so erg dat mense om die riool en selfs daardeur moet beweeg om by hul voertuie uit te kom. Die munisipaliteit het tot op hede egter geen poging aangewend om die probleem op te los nie,” sê Johan Terblanche, voorsitter van die Welkom-tak.
“AfriForum kon nie meer toekyk hoe mense elke dag met die onverwerkte riool in hul erwe moes leef nie. Daarom het ons ingespring om die inwoners se omgewing te verbeter. Inwoners het die reg tot ’n skoon omgewing, en dit is skokkend om te sien dat die munisipaliteit niks aan die situasie doen nie.”
Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, het hom ook oor die kwessie uitgespreek.
“Munisipaliteite is daarvoor verantwoordelik om hul pligte na te kom. AfriForum glo in selfdoen – en ons sal, waar ons kan, self oplossings vir probleme vind.”
Terblanche sê AfriForum sal voortgaan om die probleme onder die munisipaliteit se aandag te bring en sal ook aanhou om druk toe te pas totdat dit reggestel is.