Ringbalklub bars uit sy nate

Ná twee jaar van bykans geen sport het Welkom se ringbal behoorlik vlam gevat en bars die Warriors-ringbalklub uit sy nate.

Die lede van die Matjhabeng-ringbalspan wat Vrystaat-kleure op die Vrystaat-proewe gekry het, is van links, voor: Jolene Rafferty (onderkaptein van die senior vrouespan), Karen Crouse en Anna Matthysen Credit: SYSTEM

Ná twee jaar van bykans geen sport het Welkom se ringbal behoorlik vlam gevat en bars die Warriors-ringbalklub uit sy nate.

“Ons het heelwat nuwe spelers gekry, en op die Vrystaat-proewe op 14 Mei in Kroonstad is hulle almal gekies om die provinsie op die Suid-Afrikaanse kampioenskaps­byeenkoms, van 3 tot 9 Julie in Pretoria, te verteenwoordig,” sê André van den Berg, president van Vrystaat-ringbal en ook voorsitter van die Welkom-klub.

Dié verkose spelers is Jolene Rafferty (ook onderkaptein van die senior vrouespan), Dilin Muller, Eduan Smit, Belinda Fouché, Chante Ulrich, Vovo Mata en Nozi Rakotsoane.

“Hul deursettingsvermoë en bereidwilligheid om ons sportsoort te leer ken en te leer speel het van hulle uitmuntende spelers gemaak. Ons is trots op elkeen van hulle.

“Ek en Karen Crouse het al ’n rits Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkomste as Vrystaatse spelers bygewoon en maak dié jaar weer so,” sê Van den Berg.

Die Vrystaat spog vanjaar met drie sterk spanne. Crouse en haar meestersvrouespan het boonop vanjaar in die Arnold Classic-toernooi goud gewen.

Belangstellendes kan Van den Berg by 074-843-1586 bel.

“Hou ons Facebook-blad Freestate Ringball vir inligting dop. Ek wens ons spelers voorspoed toe vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap wat voorlê,” sê Van den Berg.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.