- Ringbal het veral in die Goudveld momentum gekry
- Ringbal is die ou korfbal, wat deur beide mans en vroue gespeel word
- Maak jou kind, seun of dogter, deel van hierdie opwindende skolespansportsoort
_____________________________________________________________________________
Die gewildheid van die buitemuurse sportsoort ringbal het momentum gekry, met die nuwe sportseisoen wat Dinsdag (08/08) op die baan agter die Hoër Tegniese Skool (HTS) Welkom se koshuis in Volksweg begin.
Verskeie leerlinge van die Goudveld-Hoërskool is reeds by dié sportsoort betrokke, asook leerlinge van die Hoërskool Hentie Cilliërs in Virginia. Dit word ook deur verskeie skole in verskeie distrikte en provinsies gespeel.
Dit is die ideale gesinsportsoort, reeds omdat almal kan deelneem, en plaaslike klubs is in Welkom (die Warriors en Rovers) en Kroonstad (Collegians) gestig.
“Amptelike skolekompetisies vind ook plaas, waar ’n Champ of Champions-toernooi vooraf gespeel word,” sê André van den Berg van die Warriors-ringbalklub in Welkom en president van Vrystaat-ringbal.
Daar vind jaarliks in die eerste week in Oktober, in die skoolvakansie, ’n nasionale kampioenskap van die Ringbal Suid-Afrika-skolevereniging plaas.
Distrikte verkies provinsiale spanne en daar word vir ’n plek in die nasionale span meegeding.
Daar word ook wenners in die onderskeie ouderdom-afdelings gekies.
“Indien jou kind nie deelneem aan skoolsport nie, sal ringbal ’n ideale keuse wees,” sê Van den Berg.
“Volg ons op Facebook by RingballSA, Ringbal SA Skole, Free State Ringball, asook Warriors Ringball Club en Collegians Ringbal Club.
“Maak jou kind, seun of dogter, deel van hierdie opwindende skolespansportsoort,” nooi hy.
Om meer inligting te verkry kan belangstellendes hul navrae aan Van den Berg by 073-843-1586 rig.
- Vir die nuutste en groot gebeure rakende ringbalnuus, kan lesers enige van die voorafgenoemde Facebook-groepe besoek.