Regter se onpartydigheid benadruk

’n Prokureur van Welkom se aansoek dat die regter wat sy strafverhoor aanhoor haar aan die verhoor onttrek, het Donderdag (14/04) in die hooggeregshof in Bloemfontein misluk.


’n Prokureur van Welkom se aansoek dat die regter wat sy strafverhoor aanhoor haar aan die verhoor onttrek, het Donderdag (14/04) in die hooggeregshof in Bloemfontein misluk.

Die prokureur, wat vroeër aan die verkragting van sy stiefdogters skuldig bevind is, het in ’n aansoek gevra dat regter Soma Naidoo, wat hom in 2021 aan die verkragtings skuldig bevind het, haar aan die verhoor onttrek.

In sy aansoek beweer die prokureur dat Naidoo bevooroordeeld is en dat hy daarom nie ’n regverdige verhoor sal kry nie. Naidoo het ook glo sy borgtog irrasioneel teruggetrek, en daarom moes hy 50 dae lank skrikwekkende toestande in aanhouding beleef.

Sy borgtog van R50 000 is verlede November heringestel nadat ’n volbank regters Naidoo se uitspraak tersyde gestel het.

Naidoo het in haar uitspraak oor haar onttrekking gesê die ervaring en opleiding van ’n regter om ’n verhoor regverdig en onpartydig te beslis ten einde die waarheid te ontdek is ’n belangrike deel van die onpartydigheid van ’n regter. Sy sê haar ondervinding en opleiding van 40 jaar in die regsberoep, waarvan 24 jaar as voorsittende beampte is, het haar in staat gestel om haar kop skoon te kry van enige persoonlike sienings en oortuigings wanneer sy sake aanhoor.

Naidoo het ook in die uitspraak benadruk dat die prokureur en sy familie nie voor sy eerste verskyning aan haar bekend was nie. Al waarvan sy kennis gedra het, was wat in die klagstaat was. Sy het geen spesiale belang in die verhoor nie en sal dit met dieselfde werkywer soos ander verhore voor haar hanteer.

Die prokureur het in Mei 2020 op 16 aanklagte – waaronder drie van verkragting, vyf van seksuele aanranding en twee van seksuele gereed­making – skuld beken.

Adv. Amanda Bester kla aan. Adv. Dawie Joubert SC tree vir die prokureur op.

Die prokureur verskyn weer in Oktober in die hof.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.