Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Wat ’n patetiese prentjie verwelkom jou as jy op die hoofpad vanaf Riebeeckstad na Welkom reis.
Die verkeersligte werk nie en die een lê sommer half in die pad. Die sement-omheining is amper toegegroei onder die vuilgoed en dit lyk afskuwelik sleg. Ek wonder maar net wat dink besoekers aan Welkom van hierdie prentjie.
Ek het dit al self skriftelik onder die eerste burger en die premier van die Vrystaat se aandag gebring, maar soos gewoonlik het ek nou al vir jare nie terugvoering ontvang nie.
Albei verkeersligte werk nou al vir jare nie. Net vandag was ek amper in ’n noodlottige ongeluk.
Ek het van Welkom na my tuiste in Riebeeckstad gereis. ’n Voertuig het nie gestop vir aankomende voertuie nie en het reg op my en ’n ander voertuig afgepeil. Ek was genoodsaak om in die veld in te ry om my eie lewe te beskerm.
Dit was angswekkend maar gelukkig het ek kop gebruik en is al gewoond aan hierdie tipe van roekeloosheid.
My grootste bekommernis is dat twee polisievoertuie agter my gery het, dit gesien gebeur maar net aangehou ry. Wat ’n skande en teleurstelling.
Ek vra nou weer nederig dat die verkeersafdeling beamptes daar plaas om die verkeer te reguleer. Wanneer ek Welkom toe moet gaan vanaf Riebeeckstad is my senuwees gedaan want die taxi’s stop nie.
Hulle is roekeloos en respekteer ons motoriste glad nie. Net vanoggend het ek agter ’n taxi gery en gesien hoe van die passasiers bottels en papiere uit die taxi gooi. Dit is onverantwoordelik en ek voel dat die verkeersbeamptes hoë boetes moet oplê vir hierdie roekelose optrede.
Nog ’n yslike en gevaarlike probleem is die troppe beeste wat teen die pad in die veld wei Z ook op dieselfde pad.
Van hierdie beeste loop vryelik op die teerpad en ook op die middelmannetjie. As jy die veewagters vra om die beeste te verwyder word daar vir jou gesê dat die eienaars van die beeste skatryk mense is en hulle is gesê dat die beeste daar moet wei.
Ek glo en vertrou dat daar dringend aan my klagtes en insette aandag gegee sal word.