Miljoene rande se vloedskade het boere nou in nood gelaat.
Weens die swaar en aanhoudende reën wat sedert die begin van Desember geval het, kon boere nie op die lande beweeg om te plant nie.
Welkom se reënval van die begin van Desember tot op hede is 617 mm. Nog swaar reën word hier voorspel.
Boere wat ondanks die reën soja en sonneblomme kon plant, het groot dele van hul oes verloor omdat saad nie kon ontkiem nie.
Die meeste van die plante wat wel begin groei het, het in die water gevrot. Van die boere moes meer as een keer plant.
Ontwrigting is ook in woongebiede en op paaie ervaar.
Massas vloedwater het deur huise in Allanridge en Nyakallong gevloei, en die Allanridge-Bothaville-pad is gesluit, tot verdere kennisgewing.
Die Matjhabeng-streek is met water en rou riool oorstroom. Dié stinkende water het deur talle huise in verskeie woonbuurte gevloei.
Weens die gebrek aan ’n werkende rioolstelsel in Matjhabeng word die rou riool noodgedwonge in die stormwaterstelsel gepomp, en dit vloei dan in panne en damme in en om Matjhabeng in.
Met die swaar reën het die water van Torontopan, deur Theroniapan en deur ’n diep sloot (wat die munisipaliteit vir hierdie doel gegrawe het) gevloei.
Die massa rioolwater is deur na Harmony Gold se verdampingspanne, waarna dit onderdeur die R30 na Wolwepan 1 en Wolwepan 2 gevloei het.
Van hier af het die riool na Rietpan gevloei en van daar in die naburige vleilande. Hierdie grondgebied voed die boere se boorgate.
Dié water is nou met E. coli van Matjhabeng se rioolwater en ook swaarmetale van die mynwater besmet.
Riool-oorstromings het ook in Ventersburg, Hennenman en die Welkom-woongebiede Doorn, Sandania, Bronville en Riebeeckstad voorgekom.

