Die Goudveld-Hoërskool en Hoërskool Diamantveld in Kimberley het op Vrydag 21 Maart kragte gemeet in die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks.
Gouties het as gasheerskool opgetree en die Diamante met drie oorwinnings en een wedstryd wat gelykop op die hokkieveld geëindig het, oorheers.
Die eerste meisieshokkiespan wen 3 – 0 en Weré Joubert van Goudveld teken twee doele in die eerste kwart aan.
Sy word ook aangewys as speler van die wedstryd.
Goudveld se eerste seunshokkiespan het vroeg in hul wedstryd die tempo gestel met ‘n doel wat binne die eerste vyf minute deur die gasheerskool aangeteken is.
Diamantveld het baie goed teruggekom in die wedstryd met ‘n eindtelling van 2 – 2. Gouties se doelwagter, Siya Mazingi, word as speler van die wedstryd aangewys.
Op die rugbyveld het Diamantveld stof in die Gouties se oë geskop met ‘n halftydtelling van 3 – 27 en ‘n eindtelling van 11 – 46 in die besoekers se guns.
Die Gouties se voorspelers het aanvanklik swaar gekry maar mettertyd gewoond geraak aan die tempo.
Ru-Bran Kock, Thabiso Pafudi en Arno Vosloo van Goudveld het uitgestaan gedurende die wedstryd.
Verdediging het die Gouties in die steek gelaat met tye, maar daar was goeie, positiewe spel, wat die span in die toekoms ‘n gevaarlike opponent kan maak.
Die speler van die wedstryd, Jaco Beukes van Diamantveld, het die Gouties deur die loop van die wedstryd op hul tone gehou.
Die netbalspanne het nie Vrydag teen mekaar te staan gekom nie as gevolg van ‘n netbaltoer.
Die spanne beoog om op Dinsdag 8 April kragte te meet.
