Die polisie het 16 groot streepsakke dagga ter waarde van R500 000 in ’n verlate voertuig in Koppie Alleenweg, Welkom, gevind.
Op Sondag 18 Augustus was lede van die Welkom K9-eenheid, onder leiding van kapt. Wassie Wasmuth, besig om inligting op te volg toe hulle ’n rooi Golf TDI in Koppie Aleenweg gewaar het.
Die voertuig het ’n U-draai gemaak, en die bestuurder en passasier het die voertuig verlaat en van die toneel gevlug.
Kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die Lejweleputswa-polisie, sê ’n paspoort wat glo aan een van die verdagtes, Sechaba Canisias Mphanya, behoort, is binne die verlate voertuig gevind.
“Hierdie man kan die polisie bystaan ??met die ondersoek,” sê Thakeng.
Die polisie het die sakke dagga op die agtersitplek en in die kattebak van die voertuig gevind. Daar is beslag gelê op die dwelms.
Enigiemand met inligting wat die polisie sal help om hierdie verdagtes op te spoor, moet sers. Bafedile Dube van die Welkom-polisie by 073-301-7171 of die Stop Misdaad-nommer by 08600-10111 bel.