Die Bothaville-Allanridge-pad, wat in twee maande 19 lewens geëis het en waar bykans 50 mense beseer is, is deur die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer gesluit.
Dié besluit is Dinsdag (29/03) geneem nadat daar tussen 29 Januarie en Maandag bykans daagliks noodlottige en ernstige ongelukke op dié pad was.
’n Gesin van vier is die nuutste slagoffers.
Hennie Benade, eienaar van ’n insleepdiens in Odendaalsrus, sê hy het Maandagoggend op die pad gery en remmerke gesien wat gelyk het asof dit na die waterpan lei.
Hy het ’n voertuig gesien waar dit ’n ent van die pad af onder die water lê. Die polisie is in kennis gestel.
Benade se seun, Duncan, het die afgelope twee maande heelparty mense snags uit die waterpan gered.
“Ons was al getraumatiseer en is al weer verby dit,” sê Benade.
Polisieduikers het Maandagmiddag die oorledenes uit die water gehaal.
“Een van die kinders was nog in doeke, so klein is sy,” sê ’n ontstelde Benade.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die gesin was van die Oos-Kaap onderweg na Orkney in Noordwes. Die oorledenes is Lutsha Mbato (33), sy vrou, Thabisa Sikhumba-Mbato (34), en hul twee dogtertjies, Bungcwalisa (4) en Likamva (2).
Dit blyk dat mense beheer oor hul voertuie verloor wanneer hulle te vinnig van die teer na die verhoogde grondoppervlak beweeg.
Die krisis met die pad het in Januarie ontstaan toe die oppervlak van ’n pan, waarvan die water weerskante van die R30 strek, ná baie reën oor die pad gestoot het.
Padgebruikers het aanvanklik deur die water gery, maar twee passasiersbusse en enkele ander voertuie het in die nag van die pad gery en in die pan beland.
Die paaiedepartement het besluit om die pad te sluit en het grondwalle oor die pad gegooi.
Dit het tot nog ongelukke gelei omdat daar te min waarskuwingstekens aangebring is en mense in die grondwalle vasgery het.
In Februarie is ’n kontrakteur aangestel om die pad met gruis en klippe hoër te maak sodat dit bokant die watervlak is.
Die paaiedepartement moes veiligheid by die padwerke beheer, maar onvoldoende padtekens het tot nog ongelukke en lewensverlies gelei.
Ná druk op die paaiedepartement is behoorlike padtekens weerskante van die waterpan opgerig.
Dit het egter nie die probleem opgelos nie. Die nooddienste en inwoners van die omgewing moes in Maart bykans elke dag mense uit die water red.
Hillary Mophethe, woordvoerder vir die departement, sê padgebruikers word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.
Die alternatiewe roetes wat aanbeveel word, is egter in ’n haglike toestand en talle ongelukke het ook op dié paaie plaasgevind.
Mophethe sê die departement gaan meer veiligheidsmaatreëls instel om verdere lewensverlies te voorkom.
Mense sal in kennis gestel word wanneer die pad weer amptelik oop is.
Verskeie voorstelle is deur padgebruikers op die sosiale media gemaak. Dit sluit in spoedwalle om mense te dwing om stadig te ry, meer waarskuwingsborde, ligte langs die pad en ’n bemande stop-en-ry-punt op te rig.