Hannes Taljaard (12) het vanjaar op die Welkom-Volkskool se sportbyeenkoms die eerste keer aan spiesgooi deelgeneem. Hy ly aan ’n seldsame siekte bekend as Epidermolysis Bullosa.Foto: Marnus Prinsloo


Hannes Taljaard (12), ’n gr. 7-leerling aan die Welkom-Volkskool, ly aan ’n minder ernstige vorm van Epidermolysis Bullosa, genaamd Simplex Koebner.

“Min mense glo dit, maar daar is baie ernstiger vorme van Epidermolysis Bullosa,” sê sy pa, Janus.

“Die toestand veroorsaak dat sy vel maklik skuif, en dit kan gevolglik afkom. Dit laat gewoonlik rou wonde op die vel of dan ’n waterblaas op die gedeelte van die vel wat trauma ervaar het. Dit kan maklik daarmee vergelyk word om daagliks ernstige brandwonde op te doen.

“Hannes moet altyd versigtig wees om nie seer te kry nie en dit maak dit moeilik vir hom om swaar goed rond te dra en om sport te doen,” sê sy pa.

Hannes het besluit om vanjaar vir die eerste keer aan spiesgooi tydens die skole sportbyeenkoms deel te neem.

Hy het spiesgooi afrigting by Fanie du Toit in Odendaalsrus ontvang.

“Die afrigting het plaasgevind op die dae wat hyself daartoe instaat is, as hy nie te veel pyn het van die vorige dag se oefening of dan van sy werk wat hy baie graag op die plaas doen,” sê Janus.

Charmaine, sy ma, het op Facebook geskryf: “Hannes jy het vir die eerste keer atletiek gedoen, en spies gegooi. Die oggend voor jy moes gooi toe wys jy my ’n eina op jou vinger. Jy het gesê dit is moeilik om jou vinger te buig veral as jy jou handskoen aantrek. Ek het jou die keuse gegee om nie deel te neem nie. Jou woorde aan my was ‘mamma ek sal deur die pyn druk, want ek hou van spiesgooi’. My oë het vol trane geskiet en ek was vol hoendervleis. Jy is die dapperste seun wat ek ken en al het jy nie ’n plek gekry nie, is jy nog steeds nommer een vir ons. Jy het gewys dit kan gedoen word al het jy hoe seer. Ons is baie trots op jou, Hannes.”

Hannes is versot op die boerdery en hy skuif graag self troppe beeste rond met sy perd, Nancy, of met sy motorfiets.

“Hannes boer eintlik al redelik goed en hy ry self met vragte mielies rond op die plaas in strooptyd of hy het ook sy eie trekker en planter waarmee hy self mielies plant as hy nie by die skool hoef te wees nie,” sê sy pa.

Op die oomblik is hy elke dag ná skool in die mielielande waar hy ’n trekker met ’n tussenry-skoffel bestuur.

Sy sussie, Carli, is in die Goudveld-Hoërskool en was nog altyd baie beskermend teenoor Hannes.

“Sy help hom as hy sukkel om iets te doen. Hannes ly eintlik ’n lewe so normaal as moontlik waarin hy self besluit waarvoor hy kans sien en waarvoor nie. Gewoonlik verbaas hy almal met sy planne wat hy beraam om iets reg te kry wat vir hom belangrik is,” sê Janus.

Die Welkom-Volkskool het hom nog altyd goed behandel en hom te beskerm teen seerkry en het hom ook by die meeste aktiwiteite probeer betrek. Hy dien ook op die leerlingraad van die skool.

Hannes het ook die vergunning dat hy met die skool se sportklere mag skool toe gaan omdat dit sagter is op sy vel.

Die skool het ook net een verdieping wat dit vir hom makliker maak om klasse te wissel.

“Dit sal veral volgende jaar wanneer hy hoërskool toe gaan ’n uitdaging wees. Volkies het vir Hannes gehelp om ook sy plek in die samelewing te vind. Hy het baie goeie vriende en onderwysers wat hom met omgee en begrip behandel.”

Janus sê Hannes se pyndrempel is baie hoër as ander mense sin.

“Wanneer hy stil raak van pyn moet ’n mens weet dat hy regtig baie seer het. Hy sal wel amper nooit pynmedikasie vra nie en dit ook nie sommer maklik aanvaar as dit vir hom aangebied word nie.

“Wanneer hy baie seer het van sy boerdery of sy oefeninge met die spiesgooi dan sal hy homself rustig hou vir ’n dag of twee totdat die pyn minder of net meer draaglik vir hom raak, maar as hy dan daar wegspring gryp hy die lewe en avontuur waarvoor hy só bitterlik lief is met ’n groot glimlag wat so ’n bietjie skaam en vol ondeundheid is,” sê Janus.

Mamma, ek sal deur die pyn druk, want ek hou van spiesgooi.

– Hannes Taljaard

You need to be Logged In to leave a comment.