Provinsie kry nie geld om paaie te herstel

Die Vrystaat se paaie is van die slegste in die land, maar ’n toelaag vir die instandhouding van paaie in die provinsie is deur die nasionale tesourie aan ander provinsies toegeken.


Die Vrystaat se paaie is van die slegste in die land, maar ’n toelaag vir die instandhouding van paaie in die provinsie is deur die nasionale tesourie aan ander provinsies toegeken.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê dit het bekend geword dat die minister van finansies op 25 Februarie R45,4 miljoen van ’n toelaag aan die Vrystaat om paaie in stand te hou, van die provinsie weggeneem het.

Wilken sê die besluit is om onbekende redes geneem en die geld is ingevolge die Wet op Verdeling van Inkomste aan ander provinsies toegeken. Hy meen die besluit is roekeloos en onaanvaarbaar.

“Oorstromings in die reënseisoen het nie net boere se oeste verwoes nie, maar ook die Vrystaat se padinfrastruktuur.”

VL sê hy wil van die minister weet hoekom die betaling van die infrastruktuurtoelaag aan die Vrystaatse paaiedepartement te staak. Dit kan dalk lig werp op onbevoegdhede en onreëlmatighede in die departement waarvoor hulle aanspreeklik gehou moet word.

“Ons gaan die minister formeel versoek om redes vir die besluit te gee en sal die impak daarvan op die landbou en die landelike gemeenskap uitlig.”

Die Vrystaatse paaiedepartement het verlede maand in ’n begrotingsvergadering gevra dat boere help om die provinsie se paaie te herstel.

Boere sê hulle bestee reeds miljoene rande jaarliks om paaie in hul omgewing in stand te hou. Daar is grondpaaie in die provinsie wat jare laas deur die paaie-afdeling geskraap is. In sommige streke betaal boere operateurs se salarisse sodat paaie geskraap kan word omdat operateurs wat aftree, se poste nie gevul word nie.

Rudie van Vuuren, ’n boer van Allanridge, sê boere verdeel die koste om ’n grondpad wat hulle gebruik, in stand te hou. Hy sê hulle betaal elkeen ongeveer R500 per maand.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.