’n Bekende prokureur van Welkom wat in die Grootvlei-gevangenis in Bloemfontein aangehou word, het hom tot die appèlhof in die stad gewend om op borgtog vrygelaat te word.
Dit kom nadat sy borgtog hangende sy vonnisverrigtinge in die Vrystaatse hooggeregshof ingetrek is. Hy is vroeër aan die verkragting van sy twee stiefdogters en hul niggie skuldig bevind.
Hy voer in hofstukke aan dat die appèl op ’n dringende grondslag aangehoor moet word, omdat sy grondwetlike reg op vryheid op die spel is.
Regter Soma Naidoo het hom net ná sy skuldigbevinding op borgtog van R50 000 vrygelaat om ’n uitgebreide regspraktyk te oorhandig.
Toe hy verlede maand vir die vonnisverrigtinge in die hof verskyn en uitstel vra, is die borgtog ingetrek omdat hy die praktyk reeds ingevolge die borgtogvoorwaardes moes oorhandig.Sy aansoek om verlof om teen dié beslissing te appelleer is ook geweier.
Die prokureur sê dit is “duidelik en onbetwisbaar” dat hy nie vir ’n langer tydperk aangehou moet word as wat deur die reg en die Grondwet vereis word nie.Daarbenewens belemmer sy aanhouding ook die verdere voorbereiding vir sy verhoor en vonnisverrigtinge. Terwyl hy in die tronk is, is dit moeilik om met sy regspan te konsulteer.Die man sê in hofstukke die hof mag nie ingevolge die bepalings van die Strafproseswet eensydig, sonder ’n ondersoek en sonder dat hy sy borgtogvoorwaardes verbreek het, borgtog terugtrek nie.Dit is verkeerd en ’n mistasting, voer hy aan. Die prokureur sê verder dat Naidoo gefouteer het toe sy bevind het dat die situasie van ’n beskuldigde ná skuldigbevinding verander en dat die bepalings van die Strafproseswet nie meer van toepassing is nie.Daarbenewens voer hy aan dat sy gefouteer het deur te dink dat sy die bevoegdheid het om sy verlengde borgtog op enige tydstip, afhangend van die omstandighede, terug te trek. Hy sê in die hofstukke daar is nie regverdigbare redes om sy borgtog in te trek nie. Hy meen ook dat ’n ander hof sy borgtog sal herinstel.Die prokureur het in Mei op 16 aanklagte skuld beken, waaronder drie van verkragting, vyf van seksuele aanranding en twee van seksuele gereedmaking.Hy het beken dat hy sy twee stiefdogters en hul niggie tussen 2010 en 2015 in Virginia en Welkom verkrag het. Daarbenewens het hy ook skuld beken op vier aanklagte van seksuele aanranding deurdat hy twee maatjies van sy stiefdogters op die mond gesoen het. Hy het hom ook teen een van hulle vasgedruk.Die prokureur se dade het in Januarie 2017 ná ’n rusie met sy vrou en stiefdogter op die lappe gekom.Adv. Amanda Bester tree vir die staat op. Adv. Dawie Joubert SC tree vir die prokureur op.