Program ’n hupstoot

Solidariteit Helpende Hand en Senior Mind Moves (SMM) werk al sedert 2019 saam om ’n program te ontwikkel wat vereensaming onder bejaardes teenwerk en hulle terselfdertyd ’n huppel in hul stap gee.


Solidariteit Helpende Hand en Senior Mind Moves (SMM) werk al sedert 2019 saam om ’n program te ontwikkel wat vereensaming onder bejaardes teenwerk en hulle terselfdertyd ’n huppel in hul stap gee.

As produk hiervan is die Seniors-in-aksie-program pas bekend gestel.

Die program is ’n praktiese verpakking van SMM se navorsing, inligting en fisieke bewegingsoefeninge om bejaardes se brein helder, hul sintuie wakker en hul spiere sterk te hou.

“Internasionale navorsing wys duidelik dat die brein nie soos ’n enjin verslyt nie. Die brein bly dinamies, mits jy dit gestimuleer hou,” sê dr. Melodie de Jager van die Mind Moves-instituut.

“Dit is belangrik om die sintuie gestimuleer en die spiere aan die beweeg te hou, want die sintuie en die spiere prikkel die brein en hou dit wawyd wakker en die gemoed lig en positief.”

De Jager het indieptenavorsing gedoen oor biomimiek in die veld van neurowetenskap.

SMM is een van vyf programme van Mind Moves. De Jager sê dat SMM ’n praktiese en dinamiese program is om ouer word makliker te maak.

Die praktiese aanslag van SMM bemagtig bejaardes om meer in beheer van hulself te voel en met meer selfvertroue met ander en hul omgewing om te gaan.

Geen spesiale toerusting is nodig nie.

Benette Welman, Helpende Hand se projekorganiseerder van Seniors-in-aksie, sê die doel van die program is om Helpende Hand se vrywilligers in staat te stel om ’n prettige uurlange aanbieding vir ’n groep bejaardes in tehuise of dienssentrums in hul onderskeie dorpe en stede te doen.

“Helpende Hand se streekmaatskaplikewerkers is reeds as fasiliteerders opgelei. Die maatskaplike werkers gaan op hul beurt ons vrywilligers oplei en toerus met die nodige kennis om die program in hul gemeenskappe aan te bied,” sê De Jager.

Christia Potgieter, hoof van maatskaplikewerkdienste by Helpende Hand, verduidelik die organisasie se toewyding.

“Senior burgers is een van Helpende Hand se fokusgroepe en ons navorsing het getoon dat ons senior burgers vereensaam en ook dat daar min geleenthede vir hulle is om betrokke te raak by aktiwiteite wat hulle aktief en positief hou,” sê sy.

“Dit is ook vir Helpende Hand belangrik om projekte te begin wat volhoubaar is en spesifieke geïdentifiseerde behoeftes aan te pak.

“Daarom is ons opgewonde om ons Seniors-in-aksie-projek bekend te stel wat in hierdie behoeftes gaan voorsien.”

Volgens dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van navorsing en maatskaplike ontwikkeling, is dit vir Helpende Hand belangrik om Afrikaanse gemeenskappe op gestruktureerde wyse met sinvolle, volhoubare en opbouende programme by te staan.

“Seniors-in-aksie is ’n mooi voorbeeld van ’n program wat aan ons ouer mense weer sin en ’n gevoel van geborgenheid gee en hulle aktief weer deel maak van die gemeenskap. Ons wil ons ouer mense daarvan bewus maak dat hulle ons jong mense met wysheid en lewenservaring kan bedien. Hulle is die wysgere van ons tyd,” sê Hermann.

  • Vir meer inligting oor die program of om betrokke te raak, besoek seniorsinaksie.co.za.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.