Suid-Afrika se inentingsprogram kan die rede wees waarom minder mense tot dusver in die derde vlaag dood is as in die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie.
Sedert die aanvang van die derde vlaag is 13 417 sterftes in die tydperk van 1 Junie tot 26 Julie aangemeld.
In die tweede vlaag van infeksies – van 1 Desember 2020 tot 28 Februarie vanjaar – is 28 349 Covid-19-sterftes aangemeld.
In die eerste vlaag van 1 Junie tot 31 Augustus verlede jaar is 13 444 sterftes aangemeld.
Dr. Anban Pillay, direkteur-generaal van die departement van gesondheid, sê hy dink Suid-Afrika se inentingsprogram het moontlik gehelp om verdere sterftes te voorkom.
“Die entstowwe het bewys dit kan sterftes weens Covid-19 of Covid-19-verwante toestande voorkom.
“Ek sou dus aanvoer dat daar baie meer sterftes sou gewees het indien mense nie ingeënt is nie en aan die virus blootgestel is,” het Pillay gesê.
Suid-Afrika het teen gisteroggend 2 437 167 mense of 4,05% van die bevolking ten volle teen Covid-19 ingeënt.
Luidens die jongste syfers van Statistieke Suid-Afrika is daar 60,14 miljoen mense in die land.
Volgens die nasionale gesondheidsdepartement het Suid-Afrika tot nog toe 6 613 704 mense ingeënt, hoewel nie almal al ten volle ingeënt is nie omdat twee dosisse van die Pfizer-entstof nodig is.
Dit kom daarop neer dat 10,99% van die bevolking minstens een dosis van ’n entstof ontvang het.
Die departement sê 1 242 236 Suid-Afrikaners – 2,06% van die bevolking – is met die Johnson & Johnson-entstof ingeënt, wat net een dosis verg.
Daarby het 1 194 931 mense – of 1,98% van die bevolking – reeds twee dosisse van Pfizer ontvang.
Kassie
WGO oor entstowwe
Volgens die WGO verskaf entstowwe ’n mate van beskerming teen infeksie en die oordrag van die koronavirus, en baie meer beskerming teen ernstige siekte en sterfte.