Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:

’n Groot probleem, wat reeds vir jare voortduur, geniet steeds geen aandag nie.

Vir jare lank leef inwoners daagliks met die stankende reuk van rou riool.

Ek verwys spesifiek na Koppie Alleenstraat in Welkom. Ons vermy hierdie straat, want die reuk verswelg jou.

Langs die pad van Welkom na Virginia lê vrot water teen Bronville en Thabong.

Beeste, skape en verwaarloosde honde drink van die besmette water.

Klein kindertjies speel in die water, drink die water en sommige inwoners was hulle klere in die water.

Lugbesoedeling veroorsaak verskeie gesondheidsprobleme, wat dodelik kan wees.

Ek vrees die uitbreek van maagkoors en glo my ons staatshospitale is nie op standaard nie. Ons staatshospitale is ’n risiko. Waar is die gesondheidsinspekteurs? Alle munisipaliteite moet gesondheidsinspekteurs hê.

Sit hulle by hulle luukse huise en ontvang elke maand ’n salaris? Dit is ’n skreiende skande.

Matjhabeng is in een groot gemors. Dit is glad nie nuwe nuus nie. Die hele land praat van die morsige stad en woonbuurte.

Ons vriende en familie wil nie meer by ons kom kuier nie. Dit is bitter hartseer.

Ek glo en vertrou dat die bestuur van Matjhabeng dringend aandag aan hierdie probleme sal gee.

Leierskap is aksie, nie posisie nie.

’n Leier is iemand met ’n magneet in sy hart en ’n kompas in sy kop.

Ware leiers is gewone mense met buitengewone vasberadenheid.

You need to be Logged In to leave a comment.