’n Volwaardige Welkomiet is onlangs as die Welkom-Volkskool se skoolhoof aangewys.
Henrico van Rooyen (36), in dié stad gebore en getoë, is op 28 April amptelik deur die departement van onderwys aangestel.
Dié kranige krieketspeler het aan die Hoërskool Riebeeckstad gematrikuleer, waarna hy sy vaardighede by die Limpopo-krieket-akademie gaan slyp het.
Hy het hom later aan die Noordwes-Universiteit as onderwyser bekwaam.
In 2006 het Van Rooyen, as student, hom by die Primêre Skool Naudeville aangesluit. Hier het hy later sy loopbaan as onderwyser begin.
Van Rooyen blink nie net in die klaskamer en op die krieketveld uit nie, maar ook as rugbyskeidsregter.
In 2010, 2011 en 2012 is hy genader om wedstryde op die Cravenweek-rugbytoernooi te blaas.
“Van Rooyen het ook in 2013 op die Grant Khomo-rugbyweek vir o.16-spelers as skeidsregter gedien – iets waarop enigiemand kan trots wees,” sê Xander Fenwick, departementshoof by die Welkom-Volkskool.
Van Rooyen het in 2016 ’n pos as departementshoof by die Welkom-Volkskool aanvaar, en hy is in 2018 tot adjunkhoof bevorder.
Sedert 2021 neem hy as skoolhoof waar.
“Van Rooyen is ’n opregte mens wat altyd bereid is om te luister of te help,” sê Fenwick.
“Hy staan vir dit wat reg is, en is geliefd onder sy personeel, leerlinge, ouers en gemeenskap. Sy manspersoneel spot hom nie verniet met die Kurt Darren-liedjie ‘Jy’s ’n Legend’ nie.”
Van Rooyen se oom, Tobie van Rooyen, was jare lank die Welkom-Volkskool se skoolhoof, en sy pa, Shorty van Rooyen, skoolhoof van die Laerskool Riebeeckstad.
Van Rooyen en sy vrou, Nahlita, ’n gr. 1-onderwyser by die Primêre Skool Naudeville, het ’n seuntjie, Lian (4).