Op die dreigement dat haar kinders doodgeskiet sal word, is ’n Welkom-polisievrou deur gewapende rowers gedwing om haar polisiewapen en 15 rondtes ammunisie te oorhandig.
Sondag (21/08) het twee mans met klapmusse die vrou by haar voordeur oorval en haar terug in haar huis gedwing. Hulle het ook haar polisie-sakboek, kontant, haar slim identiteitskaart en kontant gevat.
Die 40-jarige vrou was by haar huis, en saam met haar twee broers op pad na ’n begrafnis toe die voorval gebeur het.
Sy was op die punt om te vertrek toe die gewapende mans haar in haar huis teruggedwing het en ’n vuurwapen geëis het.
“Sy het vir hulle gesê sy het nie ’n vuurwapen nie. Een van hulle het haar op haar bynaam “Momo” genoem en gesê hulle weet dat sy ’n vuurwapen het en as sy weier om vir hulle die vuurwapen te gee, sal hulle haar twee kinders skiet,” sê kapt. Stephen Thakeng, skakelbeampte vir die Lejweleputswa-polisie.
“Die klaagster het bang geword en die vuurwapen uit die kluis in haar huis gaan haal. Nadat hulle weg is, het sy agtergekom dat hulle ook haar handsak gevat het wat op die rusbank was, waarin haar polisiesakboek, Smart Card ID, rybewys, Capitec-bankkaart en kontant was. Hulle het albei klapmusse en mussies aangehad,” sê Thakeng.
Die voorval is by die polisie aangemeld en ’n saak van huisroof is geopen.
Enigeen met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, moet konst. Nokuthula Ntanjane van Thabong Ernstige en Geweldsmisdade by 071-411-8367 of die polisie-noodnommer by 086-00-10111 kontak.