Lede van die Bloemfonteinse eenheid vir openbare-orde-polisiëring is op Vrydag 17 November ontplooi om misdaad by ’n stopplek vir vragmotors in Ventersburg te bekamp.
Dít volg op verskeie gevalle van diefstal uit vragmotors wat aangemeld is.
Diesel en vrag wat op vragmotors gelaai is, word deur groepe seuns van Mmamahabane gesteel. Dit word daarna aan inwoners van die woonbuurt verkoop.
“Inwoners word streng gewaarsku om nie vermoedelik gesteelde items te koop nie. Mense wat hulself hieraan skuldig maak, sal ook die volle mag van die wet in die gesig staar,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die Lejweleputswa-polisie.
Die span polisielede, onder leiding van sers. Siyabulela Pinana, het daarin geslaag om ’n 23-jarige verdagte op die aanklag van roof in hegtenis te neem. Hulle het beslag gelê op ’n televisiestel by ’n huis in Mmamahabane.