’n Polisiekaptein (52) en sy 50-jarige vrou is weens bedrog in hegtenis geneem nadat hulle aan ’n man werk by een van die myne in Matjhabeng belowe het.
Die slagoffers het die voorval aangemeld nadat die belofte van indiensneming nie nagekom is nie.
’n Saak van bedrog is in Junie 2022 by die Odendaalsrus-polisiekantoor geopen.
Hulle is op 29 Februarie in hegtenis geneem en het in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn.
Hulle is borgtog van R500 elk toegestaan en die saak is tot 21 Maart uitgestel om die verdagtes die geleentheid te gee om regsverteenwoordiging te kry.
’n Lasbrief vir die inhegtenisname van ’n derde verdagte, wat ’n subkontrakwerknemer in een van die myne in Matjhabeng was, Tsediso Emmanuel Matsoso is ook uitgereik.
Enigeen wat weet waar Matsoso homself bevind moet konst. Tsietsi Tlali van die provinsiale teen-korrupsie-eenheid by 071-682-5071 te bel, of die Stop Misdaadnommer by 086-00-10111 te kontak.