Een vermeende rower is geskiet en gewond, en ’n ander in hegtenis geneem, toe lede van die polisie se uitklopspan en mynsekuriteit in Virginia inligting oor ’n beplande huisroof in Harmony opgevolg het.
Op 5 Julie het die polisie inligting ontvang oor ’n huis in Gawie Theronstraat wat glo vir ’n beplande rooftog geteiken was.
By dié adres het die polisie twee voertuie gewaar. Die verdagtes het blykbaar bewus geword van die polisie se teenwoordigheid en ’n oor-en-weer skietery het plaasgevind. Een van die verdagtes het ’n skietwond aan sy been opgedoen.
Die verdagtes het op die vlug geslaan en die polisie en mynsekuriteit het albei die verdagtes agternagesit.
’n Hommeltuig is gebruik om die vlugtende verdagtes op te spoor. ’n Verdagte (40) van Noordwes is in hegtenis geneem. Hy het ’n 9mm-pistool in sy besit gehad. Die wapen se registrasienommer is afgevyl.
Die verdagte staan tereg op aanklagte van poging tot moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die ander verdagtes is steeds op vrye voet.