As deel van die deurlopende polisie-optrede Operasie uMgodi in die Vrystaat, het die polisie ’n 31-jarige man in hegtenis geneem vir dwelmhandel in Dagbreek, Welkom.
Op Sondag 20 Oktober is die verdagte in besit gevind van 13 klein sakkies wat gedroogde daggablare bevat.
’n Saak van handel in dagga is by die Welkom-polisiekantoor geopen.
Op dieselfde dag het ’n man wie se huis beroof is, polisielede in Odendaalsrus voorgekeer en hulle versoek om te help om sy gesteelde eiendom op te spoor.
Hulle het leidrade in Kutlwanong opgevolg en ’n gesteelde Hisense 54 duim-televisie, tuisteater-musiekstelsel en komberse is in ’n huis in K5 in Kutlwanong gevind.
Die polisie het ook die 39-jarige man in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Lede van misdaadintelligensie het op 19 Oktober in Welkom inligting opgevolg oor ’n vroulike dwelmhandelaar wat glo vanuit ’n huis in Dagbreek bedrywig is.
Die Welkom teenbende-eenheid het die inligting opgevolg en iemand is op heterdaad betrap dat hy ’n klein pakkie CAT koop.
Hy het probeer weghardloop, maar die 30-jarige man is in hegtenis geneem en hy het die polisie gewys waar hy die dwelms gekoop het.
’n Vrou se perseel is deursoek. Hulle het vyf groot pakke CAT gevind, en twee klein pakkies CAT, wat 526 g en 22 g geweeg het, met ’n straatwaarde van R158 000.
Die polisie het ook beslag gelê op R24 940 kontant by die 27-jarige vrou.
Sy is in hegtenis geneem vir die besit van en handel in dwelms.
In Bronville op 19 Oktober was lede van die Openbare Orde Polisiëring, distrik- operasionele bevelsentrum en lede van Bronville- sigbare polisiëring onder leiding van kapt. Francois Odendal besig met sigbare polisiëring.
In ’n poging om dwelm- en drankmisbruik hok te slaan, het hulle plekke in Goldingstraat, Bronville, deursoek.
“ ’n Groep mans was besig om hubbly bubbly te rook, en toe konst. Pieter Strydom opmerk dat een van hulle verdag lyk, is die man genader. Die volgende dwelms is in sy besit gevind: 19 sakkies metamfetamien (“crystal meth”), asook 18 halwe en vyf vol Mandrax-tablette,” sê kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder vir die Lejweleputswa-polisie.
’n Verdagte (31) is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.