Polisie slaan toe op wetoortreders in Vrystaat

Operasie Shanela lewer steeds positiewe resultate met 865 verdagtes wat verlede week in die Vrystaat in hegtenis geneem is.

Daar is 865 verdagtes in die Vrystaat verlede week tydens Operasie Shanela in hegtenis geneem Foto: SAPD


Operasie Shanela lewer steeds positiewe resultate met 865 verdagtes wat verlede week in die Vrystaat in hegtenis geneem is.

Dié multidissiplinêre benadering maak stelselmatig die lewe vir misdadigers ondraaglik. Die provinsiale polisie werk hand aan hand met private maatskappye en die gemeenskap om ’n veiliger omgewing vir die publiek te skep.

Intelligensie gedrewe ondersoeke het gehelp om 14 vuurwapens, insluitend ’n geweer, van die strate te verwyder. Die polisie het ook twee ongedokumenteerde immigrante in Ficksburg in hegtenis geneem en ’n ongelisensieerde vuurwapen is gekonfiskeer.

Die Thabong-polisie het op nog een vuurwapen beslag gelê nadat vermeende vragmotorkapers vasgekeer en in hegtenis geneem is. In nog ’n voorval is ’n vrou in hegtenis geneem en twee vuurwapens is herwin ná ’n inbraak by ’n plaas in Harrismith.

“Kontakmisdade was ’n probleem in die provinsie en dit het lede aangespoor om stop-en-soektogte te verskerp. Hul optrede het gelei tot 32 inhegtenisnames vir die besit van gevaarlike wapens, en 72 vir dwelmverwante misdade.Die polisie het ook ’n bendeleier deur ’n multidissiplinêre operasie vasgetrek. Daar is ook beslag gelê op dwelms ter waarde van R320 000,” sê sers. Mahlomola Kareli, woordvoerder vir die Vrystaatse polisie.

Daar is beslag gelê op dwelms soos mandrax, nyaope, crystal meth (tik), dagga en kokaïen.

Een verdagte is in hegtenis geneem vir moord en twee vir poging tot moord. Tien is vir verkragting in hegtenis geneem, insluitend ’n 18-jarige man wat in Kroonstad in hegtenis geneem is nadat hy op heterdaad betrap is toe hy ’n drie-jarige dogter verkrag het.

In Bloemfontein is ’n sakeman en sy seun vir verkragting in hegtenis geneem.

Deur patrollering en stop-en-deursoek-soektogte is 131 verdagtes vir aanrandings en 21 vir inbrake in hegtenis geneem. Daar is ook 18 verdagtes vir opsetlike saakbeskadiging gevang.

Tydens dié optrede is 11 bestuurders vir dronkbestuur in hegtenis geneem.

Daar is 108 verdagtes vir die oortreding van die padverkeerswet en ander misdade in hegtenis geneem, en daar is 78 onwettige immigrante in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.