In Welkom het die teenbende-eenheid ’n man vir dwelms en ’n tweede man en sy meisie vir poging tot moord en die onwettige besit van ammunisie in hegtenis geneem.

SAPD

In Welkom het die teenbende-eenheid ’n man vir dwelms en ’n tweede man en sy meisie vir poging tot moord en die onwettige besit van ammunisie in hegtenis geneem.

Op 8 Maart het lede van dié eenheid ’n man (27) wat vir poging tot moord en die rig van ’n vuurwapen gesoek is, opgespoor en in hegtenis geneem. Dié saak hou verband met ’n skietvoorval by ’n taverne in Thabong verlede maand.

Sy meisie (23) se woonplek in Thabong is ook deursoek en die polisie het op tien rondtes van ’n .38 spesiale vuurwapen beslag gelê. Sy is vir die onwettige besit van ammunisie aangekla.

Tydens ’n tweede optrede op dieselfde dag het die eenheid inligting ontvang oor ’n huis in Thabong wat vir dwelmhandel gebruik word.

’n Man (41) is vir die besit van dwelms in hegtenis geneem, nadat pakkies tik, CAT, Mandrax-tablette asook kontant gevind is. Die verdagte het probeer om polisiebeamptes om te koop en ’n bykomende klag van omkopery is bygevoeg.

Op 11 Maart het die eenheid ’n optrede by die N1-vragmotor-ruspunt in Ventersburg uitgevoer. Vyf verdagtes tussen 26 en 31 jaar oud is vir die besit van gevaarlike wapens, diefstal uit ’n motorvoertuig en aanranding in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.