Chemikalieë en toerusting waarop Operasie Vala uMgodi-operateurs beslag gelê het

SAPD

As deel van die omvattende polisie-optrede Vala uMgodi is vyf mans in Thabong, Kutlwanong en Kroonstad vir onwettige goudverwerking, die besit van dwelms en koperkabeldiefstal in hegtenis geneem.

Op Sondag 17 November het beamptes van die intelligensie-gedrewe optrede in die 2010-gedeelte van Thabong ’n huis wat aan hulle as ’n teiken geïdentifiseer is, deursoek.

Potte en bakke wat tydens onwettige goudverwerking gebruik is, is gevind in Thabong.

Operasie Vala uMgodi-operateurs het beslag gelê op Mandrax-tablette tydens ’n optrede in Kutlwanong, Odendaalsrus.

Boraks-sout, ’n chemikalieë wat gebruik word wanneer gouddraende materiaal tot amalgaam verwerk word, 41 smeltpotte en agt bakke wat gebruik word vir die verwerking van goud, asook ’n blaasvlam, is in ’n tydelike werkswinkel aan die agterkant van die huis gevind.

’n Man is in hegtenis geneem en ’n saak van besit van goudverwerkingstoerusting met ’n bykomende klag van oortreding van die Wet van Immigrasie is by die Thabong-polisiestasie geopen.

In ’n aparte optrede, ook Sondag, het ’n bekamping- en proaktiewe-span wat onder Vala uMgodi ontplooi is, voortgegaan om deur dwelmposte en brandpunte te beweeg om misdaad uit te roei.

Hulle het ’n dwelmhuis in Kutlwanong naby Odendaalsrus geïdentifiseer, waar hulle 78 Mandrax-tablette en tik in ’n hondehok ontdek het.

Die straatwaarde van die dwelms word op R4 700 geraam. Twee verdagtes is in hegtenis geneem.

Die optrede is uitgebrei na Maokeng in Kroonstad, waar vermoedelik gesteelde koperkabel in ’n 43-jarige man se besit gevind is. ’n Saak van knoeiery en beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur is by die Kroonstad-polisiestasie geopen.

In Thabong is ’n man vir die besit van vermoedelik gouddraende materiaal en verwerkingstoerusting by G-Hostel in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.