Pleidooie oor stad val ná jare steeds op dowe ore

Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:.


Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:

Hierdie brief kan nou asseblief as ’n ope brief aan ons eerste burger en die bestuur van Matjhabeng-munisipaliteit beskou word – dit is werklik ’n smeekroep.

Vir etlike jare word rioolpompe gebruik in Koppie Alleenweg en Stateway. Op oomblik stroom riool die straat af en die reuk hang dag en nag in die lug.

Dit verswelg ons longe en dit is ’n gesondheidsrisiko.

Klein kindertjies en verwaarloosde honde drink van die water.

Hierdie reuk is oral in die omgewing. Ek het dit al tot in restaurante geruik. Ons eet glad nie meer uit nie, want die vrot reuk is oral.

In die veld langs die pad wat van Thabong na Virginia gaan lê die rou riool in die veld.

Wasgoed word in die vrot water gewas, beeste, bokke en skape drink van die water.

Dit is nou al baie jare se probleem.

Ek is van plan om Carte Blanche daarvan in kennis te stel, want my klagtes val op dowe ore.

Selfs die premier van die Vrystaat gooi vir my ’n koue skouer.

Terwyl ek baklei vir ons Goudveld se gemeenskappe, is ons bestuur van Matjhabeng hard besig om hulself te verryk en gee niks om vir inwoners nie.

Niks word instand gehou nie en Matjhabeng-munisipaliteit is een van die munisipaliteite wat nie geld het nie.

Die geld wat daar is vir instandhoudingswerk word op luukshede bestee.

Ware leiers is gewone mense met buitengewone vasberadenheid. ’n Leier is iemand met ’n magneet in sy hart en ’n kompas in sy kop. Dit is iets wat Matjhabeng se bestuur beslis nie het nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.