Sekerlik een van die Goudveld se gunsteling-briefskrywers, Antoinette Schoeman, deel haar passie vir Erfenisdag en die begin van lente met ons lesers in hierdie rubriek.
Sy skryf met hartstog oor lente in die lug, en met Erfenisdag amper op hande, vier Suid-Afrika ’n dag wat aan bome gewy is.
Sy skryf:
Op Sondag 24 September vier ons weer hierdie wonderlike dag.
Ek het navorsing gedoen oor Erfenisdag en wil die volgende met almal deel.
Boomplantdag het in die stad Nebraska ontstaan. In 1872 in die Verenigde State van Amerika het ’n nuweling in dié stad die plaaslike landbouraad oorreed om ’n dag opsy te sit om bome te plant vanweë hul skoonheid en voordele.
Die eerste Boomplantdag is op 10 April 1872 gehou, en na raming is een miljoen bome daardie dag geplant.
Boomplantdag is van 1983 tot 1999 in Suid-Afrika gevier. Die regering het dit toe uitgebrei na nasionale Boomplantmaand, wat van 1 tot 30 September duur.
Skole, ondernemings en ander organisasies doen elke jaar verskeie aktiwiteite om dié dag te vier.
Dit is ’n spesiale dag en elke mens en organisasie kan tot hierdie wonderlike dag bydra. Kom ons neem almal deel en wys ons liefde aan God se skepping deur op hierdie dag ’n boom te plant – bome skep soveel skoonheid en is voordelig vir mens en dier. Bome is uniek en moet gekoester word, want dit is God se skepping vir ons om voordeel daaruit te trek.
Ek weet ons kan staatmaak op ons gemeenskap en alle organisasies deur hande te vat en ’n boom te plant. Dit is so ’n spesiale dag om vir God te wys dat ons sy wonderlike skepping opreg waardeer.
Erfenisdag en nasionale Braaidag word op 24 September gevier – gaan koop jou boom – plant jou unieke boom en geniet Braaidag.
Ek het reeds my boom gekoop en sal dit op 24 September plant.