Die dooie Duitse herdershond waarop ‘n werker vanoggend afgekom het….


’n Bejaarde plaasvrou wat geskiet en aangerand is het
heelnag langs haar man se lyk gelê en om hulp geroep.

Corrie Barnard (72) het, is eers Vrydagoggend deur ’n 
plaaswerker gevind. Die plaaswerker, Joseph Kolong, het aan Vista gesê hy
het 07:00 op die egpaar se dooie Duitste herdershond afgekom. Hy wou kyk wat
die hond doodgemaak het toe hy op sy werkgewers, die Barnard-egpaar afkom.
Kolong het na die Welkom-Kroonstad-pad gehardloop en verbygangers gevra om hom
na die Harcos Eierplaas te neem waarna hulp ontbied is.

Corrie kon nog met die nooddienste se personeel gesels en
waardevolle inligting aan die polisie verskaf voordat sy na die MediClinic
Welkom geneem is vir ’n  noodoperasie. Sy het ook baie bloed verloor. Jan (73) is op die toneel dood verklaar.

Piet Viljoen, ’n  vriend van die egpaar, sê hy het nog
Donderdagmiddag met Jan Barnard gepraat. Die krag het laatmiddag afgegaan en hy
het die kragopwekker aangesit.

Om 21:00 het die opwekker gevrek en volgens inligting wat
Corrie gegee het, het Jan gaan ondersoek instel.

Hy is by die deur van die enjinkamer oorrompel en noodlottig
geskiet. Corrie het gaan die skote gehoor en buite toe gegaan waar sy ook aangeval
is. Die aanvallers, almal met klapmusse, het geld en gewere geeïs en haar erg
aangerand en in die been en heup geskiet.

Hulle het op die vlug geslaan en sy het na haar man gekruip
en heelnag om hulp geroep. Die egpaar se selfoon is ook geroof en dit lyk of
handwapens en kontant uit die kluis geneem is.

Die polisie se Spoorsnyers, lede van die Valke en ander
spesialiste was reeds vroeg op die toneel.

You need to be Logged In to leave a comment.