Noord-Vrystaat – Die Riebeeckstad-gimnastiekklub is as die beste gimnastiekklub in die Noord-Vrystaat aangewys tydens die Noord-Vrystaat Gimnastiek Vereniging se toekennings.

Hierdie klub, wat vanjaar sy 30ste bestaansjaar vier, het die skild reeds 19 keer verower – ‘n bewys van voortdurende uitnemendheid in die sportsoort.

Noord-Vrystaat Gimnastiek ken ook agt trofees toe wat vir verskillende afdelings toegeken word, waarvan vier aan gimnaste van Riebeeckstad toegeken is vir 2025.

Van links is Nicholis Ferreira (hulpafrigter), Hugo de Klerk (seuns gimnas vir 2025), Christiné Deas (hoofaftigter), Karabelo Molaoa (dogters gimnas vir 2025) en Lee-Andri Welgemoed (hulpafrigter).

Die klub se Hugo de Klerk is aangewys as die seunsgimnas vir 2025 en Karabelo Molaoa as die meisie-gimnas vir 2025. Die Noord-Vrystaat se individuele toekennings het gegaan aan Kaylin Meyer (hoogste gemiddeld NOVS-kampioenskappe 9,24), Evan Kruger (hoogste gemiddeld NOVS-kampioenskappe 9,16), Lian Norton (hoogste gemiddeld Flip-Fest 9,24) en Ndzalama Mdaka (hoogste gemiddeld Vrystaat-kwalifisering).

LEES OOK: Langasems durf een van die grotes aan

Die klub is op 24 Junie 1995 deur Christine Deas gestig. “Ons het oorspronklik in die Hoërskool Riebeeckstad se skoolsaal begin. In 1995 het my man, Mike Deas, ‘n gebou in Riebeeckstad gekoop, en in 2000 het ons na die nuwe gebou geskuif,” vertel Christine.

Christine is welbekend as ‘n gimnas én ook ‘n afrigter. Sy was lid van die Gimnastrade-span wat in 1975 in Berlyn deelgeneem het.

“Die klub het oorspronklik met 12 gimnaste begin en ons het nou 42 gimnaste. Ek as afrigter is ook gekwalifiseer as FIG 1 vir Women’s Artistic Gymnastics (WAG) en Men’s Artistic Gymnastics (MAG) asook ‘n beoordelaar Vlak 2 vir MAG en WAG,” sê sy.

Die klub het vanjaar twee hulpafrigters, Nicholis Ferreira en Lee-Andri Welgmoed, gehad.

Op die foto is Ndzalama Mdaka (hoogste gemiddeld Vrystaat-kwalifisering). FOTO’S: Verskaf

“Albei het self gimnastiek by die klub gedoen. Alle afrigters moet by die GSA-federasie geregistreer wees en moet voldoen aan hul reëls.”

Die Noord-Vrystaat het een Tuimel en Trampolien-klub in Parys en agt Artistiese klubs wat bekend staan as WAG en MAG.

Die klubs is geleë in Kroonstad, Bothaville, Bultfontein, Ladybrand, Bethlehem, Senekal, Frankfort en Riebeeckstad.

Daar is nege verskillende dissiplines in Suid-Afrika se gimnastiek en Riebeeckstad bied WAG- en MAG-klasse aan.

Die klub se lede kom van verskillende dele van die Goudveld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 15 January 2026
    Vista E-Edition 15 January 2026

Gift this article