Plaas fokus opnuut op Hom

,

Die belangrikste gebeurtenis in Christendom, die lyding van Jesus, word in 2025 herdenking, waarna ons ons fokus op genade en liefde moet hernu, nie net vakansiedae nie.


Vergeef my sondedade, die dwaasheid ook begaan; ek smeek U om genade: O Jesus, neem my aan. Lydenstyd 2025, ongeveer 2000 jaar nadat hulle die offerlam van God op die Pasga geslag het en voor ons is die bloed en wonde steeds sigbaar.

Die belangrikste gebeurtenis van die hele Christendom, waar rondom die kerk soos ons dit ken tot stand gekom het, wat ons elke Sondag bely, dat ‘n jong man van Nasaret ons sondeskuld op homself geneem het en namens ons voor God skuld erken het.

Die prys van die kruis hang in Lydenstyd oor ons, veral in die Groot Lydensweek van 13 April tot 18 April, die laaste oomblikke van Jesus op aarde. Sy intog in Jerusalem, sy leringe by die tempel terrein en sy gevangenis, marteling en kruisiging – wat is die prentjie van Lydenstyd wat ons vier in 2025. Dink ons terug aan die prys wat die offerlam van God moes betaal?

Is ons gedagtes gerig by die bloed en wonde, of het dit net nog ‘n week geraak waar ons uitsien na ‘n langnaweek. Ironies dat ons die waarheid van Christus se koms weet, dat ons dit kan vier, kan terugdink en sy lyding bepeins, maar tog leef ons in dwaasheid, net soos Jerusalem met sy intog.

In Lukas 19 vers 29 – 44 lees ons: Soos wat Hy ry, het hulle hulle boklere op die pad voor Hom oopgesprei. Toe Hy al naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. Hulle het uitgeroep: “Geseënd is die Koning, Hy wat kom in die Naam van die Here! Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste!” Sommige van die Fariseërs in die skare het vir Jesus gesê: “Meester, berispe u dissipels!” Hy het geantwoord: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep.” Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy oor haar gehuil en gesê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.”

Die dood van Christus Jesus ons Here kan nie net nog ‘n week vir ons wees nie, dit is die belangrikste week van die jaar. Ons kan nie met dwaasheid ronddwaal en net fokus op die vakansie dae wat ons kan geniet nie, ons moet in hierdie week stil raak, terugdink aan elke dag se genade en liefde wat ons kry uit God se hand en onsself weer toewy aan Hom aan wie ons alles skuld.

– Ds. Domonic Basson, NG Kerk St Helena

You need to be Logged In to leave a comment.