Duan Pretorius, nommer 10, in aksie tydens die wedstryd teen die Kenia Simbas.Photo: Leonard Niemand


Die Griffons het hul onoorwonne status Saterdag in die HT Pelatona Stadion in Welkom behou toe hulle die Kenia Simbas met 66 – 33 verslaan het.

Teen rustyd het die Perstruie reeds met 33 – 7 voorgeloop. In die tweede helfte het hulle die Simbas toegelaat om ook vier keer te gaan druk.

Die agterlyn van die Griffons het geskitter en het nege van die tien drieë gedruk. Granwill Matthys, regtervleuel, was die groot ster en het ’n rekord vyf drieë gedruk. Hy deel nou die rekord met Piet Maritz en Nicky Steyn.

Duan Pretorius, Gurshwin Wehr, Keanu Vers en Dandre Delport het elk ’n drie gedruk.

Jaywinn Juries het weer goeie spel gelewer en het 17 punte aangeteken met ’n drie en ses doelskoppe. Aphiwe Stimele het twee van die drieë verdoel.

Ook die voorspelers het hul kant gebring. Dandre Delport, JJ Pretorius en Soso Xakalashe het in die voorste linies geveg.

Saterdag pak die Griffons die SWD Arende in Welkom.

Hierdie naweek word groot makietie in Welkom gehou, wanneer meer as 100 oudspelers van die Noord-Vrystaatse Rugby-unie en die Griffons ’n reünie hou. Frans Wessels, organiseerder, is opgewonde oor die aantal spelers wat die naweek in Welkom byeenkom, en hy moedig Welkomiete aan om Saterdag na die stadion te gaan as toeskouers van die opwindende spel en om die oudspelers te ontmoet.

Jan Tor Fourie (82), die eerste Noord-Vrystaat-kaptein, sal een van die gaste wees. Hy was voorheen ’n president van die Luiperds-rugby-unie.

Wessels het vir die Blou Bulle en Vrystaat gespeel voordat hy hom in Welkom gevestig het. Hy het ook die Perses verteenwoordig, en as senter het hy voortreflik vir al drie spanne gespeel.

Vrydagaand word ’n geselligheid vir oudspelers gehou. Elke speler sal ’n gedenkhemp ontvang. Saterdag kom hulle om 12:00 by die stadion byeen.Chris Krause

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025