Die Griffons het Vrydag (24/06) in die HT Pelatona-stadion in Welkom die rekordboeke herskryf toe hulle met ’n oorwinning oor die OP Olifante die seisoen onoorwonne afgesluit het.
Dit is beslis ’n eerste vir die unie.
Die Perses het die wedstryd met 45 – 16 gewen nadat hulle rustyd reeds met 28 – 11 voor was.
Voor die grootste skare dié seisoen in die stadion het hulle nie hul ondersteuners teleurgestel nie.
Dit was ’n spanpoging soos min, en die voor- en agterspelers het ’n skouspel verseker.
Die skare het telkens gejuig oor die Griffons se spel en hul afronding om drieë te druk.
Hulle het vyf goeie drieë gedruk, terwyl Jaywin Juries 18 punte met die skoen bygedra het.
In ’n span wat werklik geskitter het, het veral JJ Pretorius, Oupa Mohoje, Michael Benade en Dandre Delport as voorspelers uitstaande spel gelewer.
In die agterlyn het Duan Pretorius, Jaywinn Juries, Marquit September, Keana Vers, Gurshwin Wehr en Dominic Smit met verdediging en op die aanval die skare rasend van opgewondenheid gehad.
Jacques Juries en sy afrigtingspan het die Pers Masjien die vrugte laat pluk met hul toewyding, fiksheid en vertroue in mekaar.
– Chris Krause