Die dood van die bekende en geliefde oud-Goudvelder Fourie Cronjé (82) laat ’n leemte wat nooit gevul sal kan word nie, sê inwoners in dié kontrei.
As ’n legende in sy eie tyd was Cronjé oor die land heen bekend vir sy volbloedperde en het hy verskeie Suid-Afrikaanse kampioene opgelewer.
Hy het ook as die perdefluisteraar (“horse whisperer”) bekend gestaan.
Cronjé het in Februarie vanjaar Welkom ná 64 jaar verlaat, weens gesondheidsredes, en hy is op 5 Desember in die sorgsentrum van die De Meerpaal-aftreeoord in Pretoria oorlede.
Hy het ’n passie vir perde gehad en altyd seker gemaak dat hulle die beste versorging kry.
Cronjé het op ’n plaas naby Frankfort grootgeword waar sy liefde vir perde ontstaan het. Hy was van jongs af ’n uitstekende ruiter.
Sy dogter Juanita Wessels sê hy het ’n spesiale band met elke perd gehad wat deur sy hande gegaan het.
Een van sy bekendste perde was Gala, wat meer as 30 jaar oud geword het. Gala was op sy dae ’n Suid-Afrikaanse kampioen en het ’n koninklike lewe gelei. Met Gala se 30ste verjaardag is ’n geselligheid vir hom by die perdestalle in St. Helena, Welkom, gehou. Talle mense wat dié spogperd geken het, het die byeenkoms bygewoon. Die bekende Cor Roos en sy dansende perd het spesiaal vir Gala en die gaste opgetree.
Cronjé het in 1973 ’n Suid-Afrikaanse beoordelaar-sertifikaat verwerf wat hom in staat gestel het om Amerikaanse saalperde, Boerperde, Arabiese perde en Palomino’s op skoue en kompetisies te beoordeel.
Hy was 20 jaar oud toe hy perde begin afrig het. Tien jaar later het hy reeds verskeie Suid-Afrikaanse kampioene opgelewer. Hy het ook ’n gawe gehad om probleem-perde te laat presteer en was meesterlik met die afrigting van Amerikaanse saalperde. Sy ander voorliefde was bontperde (pinto’s).
Sierduiwe het hom ook na aan die hart gelê en hy was sowat 30 jaar lank lid van die Suid-Afrikaanse Sierduifvereniging.
Cronjé het in 1962 by die Pres. Brand-goudmyn as monsternemer begin werk en is kort voor lank na die geologiedepartement geskuif.
Sy vrou, Gwen, is in 2002 oorlede. Die egpaar het vyf kinders: Henry, Desiré, Yolandé, Juanita en Megan. Cronjé word ook deur ses kleinkinders en twee agterkleinkinders oorleef.
Die begrafnisdiens was op 8 Desember in die Gereformeerde kerk Welkom.
– Molly Green