Operasie Vala Umgodi gaan onverpoosd in die Vrystaat voort om hoë polisiesigbaarheid by myne te verseker.
Vanaf Maandag 5 Augustus tot Saterdag is 66 onwettige immigrante uit die strate van verskeie Vrystaatse dorpe, Kopanang-myn, Beatrix-mynskag nommer 4 en uit snoepwinkels en supermarkte verwyder.
Die verdagtes is vir verkeersverwante misdrywe, dwarsboming of belemmering van die gereg, crimen injuria, oortreding van die Myngesondheids- en Veiligheidswet, onwettige bedrywighede in snoepiewinkels, bedrywighede wat verwant hou met onwettige buitelandse burgers, die besit van goudhoudende materiaal, besit van dwelms soos tik, kokaïene, en dagga asook die besit van koperkabel en besit van vermoedelik gesteelde goedere,in hegtenis geneem.
Die polisie het misdaad bekamp deur optredes soos voertuigkontrolepunte; stop-en-soektogte; die deursoek van mense, voertuie en persele; voetpatrollies; die besoek van mynskagte, spaza-winkels in die Gugulethu-informele nedersetting en winkelsentrums; ontwrigtende bedrywighede; intelligensie-gedrewe operasies; en lugwaarnemings.
Die polisie se Operasie Vala Umgodi-span, die weermag en die departement van Binnelandse Sake was meestal by die optredes betrokke.
Die verdagtes het almal in landdroshowe in Viljoenskroon, Odendaalsrus, Ventersburg, Welkom, Theunissen en Bultfontein verskyn.