Hy lê baie na aan die harte van die inwoners van Welkom en al het hy sy wit aptekersjas in 2016 reeds opgehang, word hy steeds geraadpleeg oor siektetoestande.
Maar Frank Korb (70), wat alombekend is as die vriendelike apteker van Riebeeckstad, het nou ook bekendheid verwerf as ’n swemmer van formaat.
In 2007 is Korb se linkerbeen onder die knie geamputeer toe hy ernstig beseer was toe ’n motor sy motorfiets op die Riebeeckstadpad getref het.
Hy is deur sy beste vriend, Adv. Obie Oberholzer, oortuig om te begin swem omdat dit goeie oefening is. Die twee het toe elke dag saam gimnasium toe gegaan om lengtes te swem.
In 2009 het ’n vriend van die twee, Gerrie Mans, hulle oortuig om saam die Midmar-swem in Howick aan te pak.
Mans het ook sy linkerbeen ná ‘n amputasie verloor.
Die drie het toe besluit om die myl aan te pak in die gestremde been van die twee-dag swem.
“Om die Midmar te swem is ’n belewenis. Daar is goeie gees en samesyn, en saamkuier.
Dit is ongelooflik om daar te wees.”
Korb sê hy neem nie deel aan dié sportsoort om ’n goeie tyd te swem om of ’n tyd te verbeter nie.
Hy swem op sy eie pas en geniet dit om in die water te wees.
“Ek is rustig met die swemmery, ek doen dit vir die lekkerte. My vrou, De´sire´e, is my ‘second.’
”Nadat sy my by die begin punt afgelaai het, ry sy om na die einde toe. Hier wag twee helpers my in om uit die water te kom. Ek swem nie met die kunsbeen nie.”
In 2011 het die drie besluit om albei die Midmar-uitdaging vir mense met gestremdhede en die een vir swemmers daarsonder, aan te pak te pak. Dus elke jaar swem hulle die een uitdaging die Saterdag en die tweede uitdaging die Sondag.
Albei uitdagings is 1,6 km elk.
Vir Korb is hierdie nie ongewoon nie. Hy swem elke dag tussen 40 en 50 lengtes (1,25 km) van die gymnasium in Welkom.
On 2016 was hy weer in ’n ongeluk met sy motorfiets betrokke, en die dokter moes sy been bokant die knie afsit.
“Ek was vir sewe maande ná die ongeluk huisverbonde. Dit is toe wat ek besluit het om die apteek te verkoop.”
Korb het in 1986 by die Riebeeckstad-apteek begin en in 1990 is die naam na die Frank Korb Apteek verander.
”My twee vriende is ook afgetree en het weggetrek, nou gaan ek alleen Midmar toe. Ek wil hulle tog oortuig om weer saam te kom. Dit is baie lekker daar.”
Korb het nou ’n 1750cc driewiel-Harley Freewheeler en is ‘n lid van die Ulysses motorfiets klub.
“Dit is ’n klub vir lede ouer as 40. Ek woon elke jaar die Buffalo- en Ulysses rally by en ek en my vriende doen ook ander roetes en toere.