Vrou ryg meer as 140 000 krale in vir kunsprojek wat SA vier

Dit het ’n vrou van Virginia vier jaar geneem om 140 620 krale aanmekaar te ryg en tien kraleblokkies te ontwerp, om Suid-Afrika in ’n kunswerk uit te beeld.


Dit het ’n vrou van Virginia vier jaar geneem om 140 620 krale aanmekaar te ryg en tien kraleblokkies met dié ingerygde krale te ontwerp, om Suid-Afrika in ’n kunswerk uit te beeld.

Elke blokkie beeld Hester de Wet se siening van Suid-Afrika uit.

“Ek het geen verwysings of prentjies gebruik nie, Dit is alles my eie ontwerpe en idees,” sê De Wet.

Hester de Wet

Hester de Wet het hierdie tien unieke blokkies uit krale oor die bestek van vier jaar geryg. Foto: Marti Will

Hierdie skepping van Hester is enig in sy soort.

Die kleurvolle vierkante beeld eienskappe van Suid-Afrika uit wat die land spesiaal vir haar maak.

Op een van die blokkies het sy die name van Mandela, Mbeki, Zuma en Ramaphosa geryg ter viering van 30 jaar se demokrasie, en op ’n ander blok word Covid-19, beurtkrag en slaggate uitgebeeld.

Sy is lief om die Suid-Afrikaanse vlag met krale uit te werk en die vlag is deel van die ontwerp van baie van die blokkies.

Ander blokke bevat simbole wat die tradisionele braaivleis, rugby en sokker uitbeeld. Daar is ook ’n blokkie gewy aan Suid-Afrika se fauna en flora, die groot vyf, die verskillende nasies en stamme, hul tale en die kerke wat enig aan ons land is.

krale

Sy is lief daarvoor om die Suid-Afrikaanse vlag met krale uit te werk. Foto: Marti Will
krale

Hierdie kunswerke van Hester de Wet is uitsonderlik. Foto: Marti Will

De Wet se inspirasie vir die ryg van die tien Suid-Afrikaanse teëls het met Covid-19 begin. Sy het baie siek geword en het die ryg van die krale as terapie gebruik.

“Die hele proses het uiting aan my kreatiwiteit gegee en gehelp met my genesing,” sê sy.

De Wet se passie is om te skep; buiten haar blokkies, maak sy juwele en sy hekel graag. Sy sê sy het ’n gawe met hekel ontdek.

“Ek kan na ’n patroon kyk, dan skets ek die ontwerp, en dan hekel ek dit in ’n gebruiksartikel.”

Hester is ook lief vir haar tuin en haar versameling vetplante, broodbome en ander eksotiese Suid-Afrikaanse plante is indrukwekkend.

Sy sê sy wil graag ander mense inspireer om kralewerk te doen.

“Ek ryg krale vandat ek vier jaar oud was. Ek het een van daardie kraleprojek-boksies as geskenk ontvang.

“Ek sal dit nooit vergeet nie, ek was betower. Dit is toe dat die krale-gogga my gebyt het en dit is sedertien my passie,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.