In Oktober het Giana Blignaut (12) op haar KTM350 aan die Mega Madalas-wedren deelgeneem. Sy het ’n silwermedalje verower. Haar motorfiets is vir volwassenes bedoel. Foto: Verskaf


Giana Blignaut het haar veldwedren-avontuur op die ouderdom van vyf jaar op ’n PW50-motorfiets begin, en vanjaar op 12-jarige ouderdom wen sy silwer op haar KTM350 waarmee sy die berge invaar.

In dieselfde jaar wat sy begin motorfietsry, het sy reeds opgeskuif na n KTM50.

“In die begin het Giana net op die motocross-baan by Phakisa op naweke geoefen. Toe sy ses jaar oud was het sy geskuif na ’n KTM65,” sê haar ma, Giselle.

Giana het later as tien-jarige op die KTM65 aan haar eerste Mega Madalas-veldwedren deelgeneem.

In dié wedren het sy teen ander kinders deelgeneem.

“Hierdie was ’n geleentheid waar elkeen ’n sekere hoeveelheid rondes moes ry om te kwalifiseer vir brons, silwer en goud.

“Daar was geen ouderdomsbeperking nie, en sy het reeds op die ouderdom van tien jaar ’n brons­medalje verower,” sê haar ma.

Giana het in 2023 weer deelgeneem en ’n silwer ontvang.

In Mei vanjaar het Giana aan die Imla-veldwedren deelgeneem en in Oktober aan die Mega Madalas-wedren, waar sy ’n silwermedalje op haar KTM350 verower het.

Hierdie is ’n motorfiets vir volwasse of meer ervare ryers.

“Haar pa, Francois, is haar grootste motivering vir haar passie vir uithouwedrenne. Sy neem meestal tussen seuns deel, maar daar is wel meisies wat ook deelneem,” sê haar ma.

Giana is ’n leerling aan die Naudeville Primêre Skool. Sy is ’n veelsydige sportvrou en het hierdie jaar deelgeneem aan hokkie en netbal, asook perdry.

Sy was vanjaar as ’n reserwe speler van die Lejweleputswa-netbalspan gekies is.

Giana het ook deelgeneem aan die Sanesa-perdeskou in Mei, waar sy ’n eerste en tweede plek behaal het.

Sy is lief vir diere en het ’n passie en omgee vir haar medemens.

Sy neem meestal tussen seuns deel, maar daar is wel meisies wat ook deelneem.

– Giselle Blignaut

You need to be Logged In to leave a comment.