Inwoners word streng gewaarsku om op die uitkyk te wees vir vier mense wat hulle as polisiebeamptes voordoen.
Die waarnemende distrikkommissaris van Lejweleputswa, brig. Envor Solomon, wil inwoners, veral pensioentrekkers, ontvangers van padongelukkefonds-eiese en diegene wat kontant het waarsku, aangesien hulle die teikens is.
Daar was al verskeie gevalle waarin twee swart vroue en twee swart mans mense nader en hulle versoek om ’n waardevolle artikel soos ’n sweismasjien of skootrekenaar veilig te bewaar.
Hulle sê dan dat hulle sal terugkom om dit te kom haal.
Later sal dieselfde groep terugkom en hulself as polisiebeamptes voordoen. Hulle sal ’n versoek rig om die huis te deursoek, en dan op die waardevolle artikel afkom.
Die slagoffer word dan meegedeel dat hulle in hegtenis geneem word, en word in ’n wit sedanmotor na die Odendaalsrus-polisiestasie geneem. Hulle word ook versoek om hul ID en selfoon saam te vat.
Sommige slagoffers word na Noordwes, Bloemfontein of Bothaville geneem waar swaarverdiende kontant deur die gebruik van ’n selfoon beroof word. Soms gaan hulle ook binne-in ’n bank om kontant te onttrek.
As iemand vermoed dat hierdie individue by hulle huis aangekom het, moet hulle onmiddellik die polisie in kennis stel.
Slagoffers word aangeraai om die noodoproep weg van die bedrieërs in geslote kamers te doen.
Inwoners word ook gewaarsku om nie te voet na die polisiestasie te loop as hulle ver weg bly, of as dit al donker is nie.
- Hierdie nommers kan in geval van nood geskakel word: Welkom SAPD: 079-886-5574.) Thabong SAPD: 082-848-8120.) Odendaalsrus SAPD: 082-864-0004.) Virginia SAPD: 082-465-3011.) Hennenman SAPD: 057-573-9115.) Ventersburg SAPD: 082-529-2443.) Riebeeckstad-satellietpolisiestasie: 060-646-0596.) Allanridge SAPD: 082-466-6632.) Welkom-blitspatrollie: 082-052-7729.