Verstopte stormwaterdrein in Welkom loop oor. Foto: AfriForum


Die AfriForum-tak in Welkom en omliggende gebiede het hul kommentaar ingedien op die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP).

Daar is veral gefokus op dié dorp se rioolprobleme wat daagliks vererger.

Vuil water vloei by Welkom se krane uit. Foto: AfriForum

AfriForum moet gereeld inspring om verstopte rioolpype oop te maak. Die organisasie het in hul GOP-kommentaar ook versoek dat daar dringend aandag gegee word aan die instandhouding van paaie, wat die herstel van slaggate en die opdatering van padtekens insluit.

“Inwoners in en om Welkom gaan ook gebuk onder erge waterprobleme omdat daar selde water uit die krane vloei. Indien daar wel water is, kan dit nie gebruik word nie want dit is vuil,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek.

Sy sê hulle beveel aan daar moet ook vir die instandhouding van parke wat hawelose mense lok, begroot word.

Die munisipaliteit moet ook dringend aandag gee aan die instandhouding van vullisterreine (Welkom, Odendaalsrus, Allanridge, Virginia, Hennenman en Ventersburg) wat nie aan die minimum standaarde voldoen nie. Hulle moet ook die probleem met onwettige vullisstorting oplos.

Die voorstelle wat AfriForum ingedien het, sluit terreine in wat die Matjhabeng-munisipaliteit, volgens die organisasie, nou al vir veels te lank afskeep.

“Ons help graag waar ons kan om ’n gebied op te knap of om probleme op te los, maar dié burgerregteorganisasie sal nie toekyk hoe die munisipaliteit nie hul verantwoordelikhede teenoor die gemeenskap nakom nie,” sê Ikking.

AfriForum nooi die gemeenskap om by hul projekte betrokke te raak. Sluit aan by wordlid@afriforum.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article