Een van die enkele paaie in die Vrystaat wat nog in ’n goeie toestand is, die R30 tussen Bothaville en Allanridge, het die afgelope twee maande ’n nagmerrie-roete geword.
Die Vrystaatse paaiedepartement het die pad, wat met die water van ’n pan bedek was, verlede Donderdag vir verkeer oopgestel nadat die oppervlak met klip gelig is.
Sewe mense is sedert Donderdag (24/02) in tien ongelukke op die pad dood.
Padgebruikers se probleme het begin nadat dit buitengewoon baie in die gebied gereën het en ’n waterpan in Januarie oor die pad gestoot het.
Die verkeersowerhede het die pad gesluit, maar mense het aangehou om deur die water, wat sowat 400 m van die pad bedek het, te ry.
Twee busse en enkele ander voertuie het, meestal in die nag, van die pad afgery en mense moes uit die water gered word.
Intussen het mense wat nie kans gesien het om deur die water te ry nie van bykans onbegaanbare ompaaie in die gebied gebruik gemaak.
Dié ompaaie is meestal grondpaaie, terwyl die geteerde Bothaville-Wesselsbron-pad so vol slaggate is dat mense daagliks hul voertuie daarop beskadig.
Op 10 Februarie het die paaiedepartement ’n grondwal oor die R30 gegooi om padgebruikers te dwing om van die alternatiewe roetes gebruik te maak.
Sommige mense met groot voertuie het egter oor die grondwalle gery.
Meer as een padgebruiker het ook in die donker in een van die walle vasgery.
’n Enkelbaan van klippe en gruis is die afgelope twee weke op die teerpad gebou.
“Dis niks minder as moord wat die naweek gebeur het nie,” sê Johan Terblanche van Welkom se AfriForum-tak.
Hy sê oproepe van die polisie in Allanridge dat verkeersbeamptes die pad beman en voldoende waarskuwingste-kens oprig, het op dowe ore geval.
Die polisie in Allanridge het volgens Terblanche Vrydag reeds, ná die eerste ongelukke, die paaiedepartement gevra om die pad te beman sodat dit in die nag veilig gebruik kan word.
“Een van die probleme is dat die enkelbaan wat hulle gebou het nie in lyn is met die res van die pad nie. Mense sien dit te laat, veral in die nag,en ry van die pad af,” sê hy.
’n Stop-en-ry-punt, asook behoorlike waarskuwingsligte en aanwysings om mense in te lig om hul spoed te verminder, is Dinsdag (01/03)opgerig.
Kapt. Stephen Thakeng, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n Toyota Fortuner het Sondagaand in die water beland en ses mense is in die voertuig in die water dood.
’n Sewende persoon is in ’n bedenklike toestand in die hospitaal opgeneem.
Die mense, wie se name nog nie bekend gemaak is nie, is van Bothaville.
Saterdagaand is een mens dood en drie het kritieke beserings opgedoen.
Nog agt ander ongelukke het van Vrydag af hier gebeur.