Nog twee mense is die afgelope naweek in ’n ongeluk op die R30-pad tussen Bothaville en Allanridge dood.
Dié pad het die afgelope twee maande in ’n nagmerrie-roete ontaard. Minstens sewe mense is sedert Februarie in tien ongelukke hier dood.
Twee busse en enkele ander voertuie het sedertdien, meestal in die nag, van die pad gery, waarna insittendes uit die water gered moes word.
In die nuutste ongeluk, wat Vrydag (18/03) omstreeks 21:40 plaasgevind het, is ’n man en vrou dood.
Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, is lede van die Allanridge-polisiekantoor ingelig oor ’n ongeluk naby die silo’s.
Met die polisie se aankoms is ’n donkerblou Mazda met ’n Lesotho-registrasienommer in die water aangetref.
Thakeng sê volgens inligting het die bestuurder van die motor deur die water gery.
“Polisieduikers is na die toneel ontbied, waar hulle twee lyke, dié van ’n man en vrou, uit die water gehaal het.”
Die motor is uit die water gesleep.
Volgens Thakeng is die oorledenes se identiteit in dié stadium nie bekend nie.
’n Geregtelike nadoodse ondersoek is begin.
Thakeng raai motoriste aan om op dié pad stadiger te ry.– Netwerk24