Sy hardloop haar hele lewe lank, en reeds op skool was sy meer op die sportterrein as voor die boeke.
Só sê Amelia du Plessis (51), ’n ywerige en pligsgetroue marathon-hardloper van Welkom.
Van 1 tot 31 September het Amelia en haar man, Hendrie, die jaarlikse Dementia Challenge SA – Run Against Dementia (RAD) aangepak.
Dit is ’n virtuele wedloop wat 450 km vir die maand behels. ’n Deelnemer mag draf, stap of fietsry. Elke 3 km op die fiets is gelykstaande aan 1 km se draf.
“Ek en my man het ’n gedeelte fiets gery en moes 329,83 km ry om 109,94 km se draf te kan aanteken. Ek moes toe ’n verdere 340,83 km draf om die 450 km aan te vul.”
Die egpaar het van ’n toepassing gebruik maak om rekord van hulle afstande te hou. Dié mobiele toepassing gebruik GPS-data om afstand te bereken.
Deelnemers voltooi verskillende afstande vir verskillende sertifikate. Amelia het ’n platinum-sertifikaat ontvang vir die 450 km wat sy in die maand voltooi het.
Du Plessis het besluit om aan die RAD-marathon deel te neem en te voltooi omdat haar skoonma, Elize du Plessis, in 2020 aan dementia oorlede is.
Sy het in 2013 van die Noordwes na Welkom verhuis, en dit is toe dat die marathon-gogga gebyt het.
Du Plessis is ’n lid van die Harvinia Striders. Sy het al twee keer die Comrades voltooi, in 2018 en 2019.
“Dit is harde oefening en baie voorbereiding om die Comrades te kan doen. In albei Comrades was die laaste paar kilometer die grootste uitdaging.”
Du Plessis het ook al een 21 km Two Oceans en twee 56 km Two Oceans voltooi.
“Daar was ook baie ander marathons en padwedlope wat ek al gedoen het.”
Sy sê Oom Louis (Massyn) is ’n groot inspirasie in haar hardloop, en sy prestasies het haar aangemoedig om haar eerste Comrades te hardloop.