’n Man (38) en sy vriendin (33) het op Vrydag 20 September in die Welkomse landdroshof verskyn, elk op twee aanklagte wat verband hou met seksuele oortredings met kinders.
Die eerste aanklag behels verkragting; seksuele aanranding; algemene aanranding; en blootstelling, vertoning, of om die blootstelling of vertoning van pornografie aan kinders toe te laat.
Die tweede aanklag is seksuele aanranding en seksuele gereedmaking van ’n kind.
Albei is op 13 September in hegtenis geneem en hul eerste hofverskyning was Vrydag. Die slagoffers is twee meisies van drie en vier jaar, en ’n seun van ses.
Dit is albei beskuldigdes se eerste oortreding. Twee van die slagoffers was reeds in 2021 van die vrou weggevat en mag net by hul ma kuier.
Die man is ’n onderwyser by ’n spesiale skool in Welkom, en sy vriendin is by gemeenskapspolisiëring betrokke.
Die twee het op Maandag 23 September in die Welkomse landdroshof verskyn vir borgtog. Die borgtogaansoek is uitgestel tot 30 September, en albei bly in aanhouding.