Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Baie geluk aan ons nuwe burgemeester dat hy die harde werk met ywer aanpak en gemeenskappe motiveer om hande te vat en saam te werk.
Ons moet in gedagte hou dat die projek grootskaalse versoening kan bewerkstellig.
Daar is baie instandhoudingswerk wat jare lank agterweë gebly het en dit is ’n bekommernis.
Op die hoek van Mozart- en McLeanstraat in Riebeeckstad skep die bosse en doringbome ’n gevaarlike situasie. Jy moet die kruising binnery, oor driekwart van die dwarspad, om te kyk vir aankomende verkeer. Skoolkinders loop in die pad teen die bosse en gaan beslis raakgery word. Die bosse moet so gou moontlik verwyder word.
Die slaggate in Craiblaan is nog ’n gevaar. Dit is een van Riebeeckstad se besigste strate en hier moet jy kophou om nie in ’n ongeluk te beland nie.
Die verkeerslig by die afdraai na die Bongani-hospitaal is al langer as twee jaar buite werking. Ek wil net graag hê dat ons lewe nie in gevaar gestel moet word weens onverantwoordelike optrede van die bestuur van Matjhabeng nie. Kan daar nie ’n verkeersbeampte daar geplaas word sodat hy die verkeer kan reguleer nie?
Matjhabeng se bestuur is wêreldgehalte-kliëntediens aan ons wetsgehoorsame burgers verskuldig. Ons betaal immers hul salarisse. Wonder net waarheen gaan al die geld wat maandeliks deur die inwoners betaal word?
Dankie, meneer die eerste burger, vir volhoubaarheid en integriteit. Ons staan bankvas agter u.