Bekende Goudvelder en oud-Springbokstoeier se dood laat leemte

Huldeblyke het van oraloor ingestroom nadat ’n geliefde en bekende Goudvelder en oud-Springbokstoeier oorlede is.


Huldeblyke het van oraloor ingestroom nadat ’n geliefde en bekende Goudvelder en oud-Springbokstoeier oorlede is.

Jan Bezuidenhout (72), ’n bekende boer van Welkom, is op Saterdag 20 Julie omstreeks 07:15 in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Bloemfontein oorlede.

Jan Bezuidenhout

’n Bekende Goudvelder en oudstoeier, Jan Bezuidenhout (72), is op Saterdag oorlede. Saam met Bezuidenhout is sy vrou, Elsabé. Foto: Ilse’s Photography

Bezuidenhout het die afgelope vyf jaar aan swak gesondheid gely en het in die bestek van ’n jaar altwee sy bene verloor.

Daarna het hy verskeie gesondheid-uitdagings gehad. Bezuidenhout het vyf weke gelede ook ’n hartaanval gehad.

“Ná die hartaanval het Jan se gesondheid baie vinnig agteruitgegaan, en hy is toe in die hoësorgeenheid van Mediclinic in Bloemfontein behandel,” sê Koekie (Elsabé) Bezuidenhout, sy vrou.

Bezuidenhout is gebore en getoë in die Goudveld en het op die plaas La Rochelle buite Welkom grootgeword.

Hy was ’n leerling aan die Laerskool St. Helena en het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Goudveld voltooi. Daarna het hy heeltyds geboer.

As voormalige Springbok-stoeier en -afrigter, wat vas geglo het dat dié sportsoort ’n voertuig vir persoonlike ontwikkeling is, het hy 43 jaar gelede die Welkom-stoeiklub gestig.

By dié klub het Bezuidenhout as afrigter, beampte en voorsitter gedien. Jare lank was hy ook die voorsitter van die Noord-Vrystaat-stoeiklub.

Bezuidenhout het in die vroeë 90’s deur middel van ’n ontwikkelingsprogram besluit om selfs hawelose en minder bevoorregte kinders afrigting in stoei aangebied.

Sy bekwaamheid in dié sportsoort het oor die jare verskeie Springbok-stoeiers opgelewer.

“Naas ons kinders, klein­kinders, agterkleinkinders en die boerdery het my pa gelewe vir stoei. Dit was deel van sy menswees en wese. Dit was ’n ingebore passie en liefde wat hy graag met almal gedeel het,” sê Bezuidenhout se seun, Jan.

Die Bezuidenhout-egpaar was 51 jaar lank getroud en het vyf kinders. Hulle is Jan en Piet Bezuidenhout, Elsabé van Vuuren, Carol Fourie en Koba Beuken.

Die paartjie het ook 16 kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Bezuidenhout se roudiens sal op Vrydag 26 Julie om 10:00 in die Lighuis-bediening in Welkom plaasvind.

Die diens sal deur past. Johan Taljaard gelei word.

You need to be Logged In to leave a comment.