Roma Badenhorst (93), ’n bekende in Virginia en omgewing, is Vrydag (21/01) oorlede.
Hy het op die plaas Brandkop by Jacobsdal grootgeword en in 1946 aan die Hoërskool Koffiefontein gematrikuleer.
In 1947 het Badenhorst by die Ontvanger van Inkomste begin werk, waarna hy op 1 April 1948 werk as ingeskrewe prokureursklerk in Bloemfontein aanvaar het.
In hierdie tyd het hy ook aan die Universiteit van die Vrystaat studeer, en in 1953 het hy sy LLB-graad verwerf.
Die volgende jaar het Badenhorst as professionele assistent in Bloemfontein begin werk en ook sy akteuitmaker- en notaris- eksamen voltooi.
Hy het vir die Spoorweg-rugbyklub uitgedraf en ook drie wedstryde as linkervleuel vir die Vrystaatspan gespeel.
Aan die begin van 1955 het Badenhorst na die Goudveld verhuis, en op 15 Mei het hy sy praktyk, Roma Badenhorst-prokureurs, in Virginia begin.
Kort daarna is hy met Koekie getroud. Sy was tot sy aftrede in 2000 sy boekhouer.
In Virginia se ontwikkelingsjare het Badenhorst by die plaaslike politiek betrokke geraak. Op 23 September 1959 is hy tot die munisipale raad verkies, en hy het 29 jaar in dié raad gedien.
Badenhorst was vir agt termyne die burgemeester van Virginia, en van Oktober 1968 ook lid van die Vrystaatse Munisipale Vereniging. Hy het twee termyne as president van dié vereniging gedien.
In hierdie tyd was Badenhorst ook voorsitter van verskeie provinsiale rade.
Boonop het Badenhorst in verskeie gemeenskapsrade gedien en was hy lid van die Provinsiale Raad van die Vrystaat as verteenwoordiger van die regering. Hy het dié amp beklee totdat die raad ontbind het.
Roma Badenhorst-prokureurs is oorspronklik deur Nico, Badenhorst se seun, oorgeneem, en later deur Steyn, sy kleinseun.
Die firma bestaan steeds.
Sedert sy aftrede in 2000 het Badenhorst homself met sy boerderybelange in Ventersburg en sy plaas Brandkop besig gehou. Hy het tot November 2020 in sy huis in Virginia gewoon, waarna hy vir noodsaaklike versorging na Huis Ougoud in Welkom verhuis het.
Hy was ’n lidmaat van die NG Moedergemeente, later die NG Gemeente Virginia.
Hy was geliefd onder sy vier kinders en vyf kleinkinders.