Welkom het ’n klub vir mense ouer as 50 wat ’n gedeelde belangsteling in fiksheid, dans en samesyn het: Movement to Music50+. Die jongste lid van die klub is 67 en die oudste is 82. Van die klub se lede is van links Ester Smit, Marie Botes, Wilma Jacobs, Bee Janse van Rensburg, Hannetjie van den Heever en Annetjie Grundling. Foto: Verskaf


As jy van die oefenklub Movement to Music 50+ hoor, visualiseer jy glad nie statige vroue in hul goue jare wat almal vinnige, presiese en ritmiese lyndanspassies uitvoer nie.

Daar is 30 000 Afrikaanse Senior Fiksheidvereniging (SasfA) klubs oor Suid-Afrika heen en Welkom spog met die enigste tak in die Vrystaat.

Vrystaatse voorsitter, Annatjie Grundling (82), sê dit is oefening vir die liggaam en die brein.

“Ons doen aerobiese en lyndanklasse. Dit is vinnige oefeninge en dit is presies hier dat die oefening vir die brein ook inkom. Nie net moet ’n mens vinnig kan dans nie, maar ’n mens moet ook die verskillende danspassies kan onthou,” sê sy.

En dié vroue weet beslis hoe om lyndansreekse in presiese gelid uit te voer.

Die jongste lid van die Welkom-klub is 67, en die oudste is 82.

Grundling woon die afgelope sewe jaar in Welkom, en sy beoog om eendag ’n tak van Sasfa in elke dorp van die Vrystaat te stig. Grundling is reeds sedert 1990 deel van die vereniging.

“Die vereniging bied jaarliks opleidings­kursusse vir mense met passie vir seniors en hul fiksheid aan,” sê sy met geesdrif.

Volgens Grundling is die doel van die klub om ’n liefde vir oefening, fiksheid en dans te kweek.

“Ons doen glad nie kompetisies nie. Ons neem net aan byeenkomste deel, kuier en oefen saam, en doen ook vertonings vir belangstellendes waar ons kan.

“Dit is ’n ideale geleentheid vir samesyn as jy alleen voel. Dit is vir mans en vroue,” sê sy.

Daar is een keer ’n jaar ’n groot saamtrek, en die klub sluit ook die jaar met ’n gesellige byeenkoms af.

“Ons hou gereeld konsert en tree ook op by aftreeoorde, skole en instansies soos kerke, asook die Vrouelandbou-unie (VLU) se tak­vergaderings in die streek”.

Belangstellendes wat hulle by die klub wil aansluit, opleiding wil ontvang of die klub vir optredes wil nooi, kan Grundling by 079-535-0685 of Ester Smit by 082-770-8671 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.