’n Oudleerling van die Goudveld-Hoërskool in Welkom is gekies vir die Suid-Afrikaanse atletiekspan wat die land op die Olimpiese Spele vir 2024 in Parys, Frankryk, sal verteenwoordig.
Die 21-jarige Miné de Klerk, ’n atleet wat in gewigstoot en diskusgooi spesialiseer, het op Sondag 30 Junie die oproep ontvang dat sy vir die nasionale span gekies is. Sy gaan in gewigstoot deelneem.
“Ek en my pa, Ben, was besig om inkopies te doen toe ek die oproep kry. Ek kon dit nie glo nie en was oorstelp van vreugde. Ons het dadelik my ma, Yolandie, gebel om die goeie nuus te deel,” sê De Klerk.
Die kranige atleet het op die jong ouderdom van tien jaar aan die atletieknommers begin deelneem en was van die staanspoor af ’n uitblinker op die atletiekveld.
Die tweemalige kampioen is in 2021 en 2022 tydens die wêreldatletiek se o.20-kampioenskappe as kampioen aangewys. De Klerk het by albei geleenthede goud in gewigstoot verower en medaljes vir diskusgooi bygevoeg.
De Klerk het in 2021 aan die Goedveld-Hoërskool gematrikuleer, waarna sy aan die Universiteit van Oregon in Amerika begin studeer het.
Sy is nou by die Universiteit van Nebraska-Lincoln in Amerika, waar sy sielkunde studeer. Sy sal ná die Olimpiese Spele vir bietjie meer as ’n week huis toe kom voordat sy weer na Amerika sal vertrek om haar studies voort te sit.
Sy word deur Justin St. Clair in Amerika afgerig en ter voorbereiding vir die Olimpiese Spele het sy streng by haar daaglikse oefenprogram gehou; sy oefen ten minste 12 uur per week.
Hulle het ook baie aandag aan die fynere tegniek en vaardighede gegee. Haar persoonlike beste in gewigstoot is 17.79 m en in diskusgooi 55.17 m.
“Ek is opreg dankbaar vir my afrigter wat my ten volle ondersteun en voordurend aanmoedig.”
Wanneer haar senuwees op die atletiekveld begin knaag, bid sy vir kalmte en rustigheid en luister na musiek en probeer om die oomblik te geniet.
De Klerk en haar spanmaats het op Sondag 21 Julie vanaf die OR Tambo-lughawe in Johannesburg na hul oefenkamp in Montpellier, Frankryk, vertrek.
Sy sien uit om al die professionele atlete by die Olimpiese Spele te ontmoet en om op hulle vlak te kan deelneem, asook om Frankryk se kultuur beter te leer en die land te verken.
Die Olimpiese Spele word van Vrydag 26 Julie tot Sondag 11 Augustus in Frankryk aangebied.